Onwettige grondbesetting: ‘n Probleem van epidemiese afmetings
Gauteng worstel tans met 'n enorme probleem van onwettige grondbesetting.
MEYERTON. – Die probleem is veral ooglopend in die plaaslike munisipaliteite van Emfuleni en Midvaal waar daar volgens Kobus Hoffman, VF Plus se lid van die provinsiale wetgewer in Gauteng, glo daagliks tussen 50 en 100 huise per dag op besette grond verrys.
Hoffman sê die VF Plus was die afgelope tyd aktief by die bekamping van die probleem betrokke. Volgens hom is daar tans ongeveer 400 hektaar in die plaaslike omgewing wat onder beleg van grondbesetters is.
Dit sluit grond van privaateienaars in, sowel as grond wat deur die Emfuleni Plaaslike Munisipalteit en die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit besit word. Dit is veral in die gebied van Vlakfontein en langs die R82 (Ou Johannesburgpad) van Vereeniging tot by De Deur waar onwettige grondbesetting nou ‘n reuse probleem is.

Die besetting van grond begin volgens Hoffman dikwels op munisipale grond en spoel dan oor na privaatgrond.
Die feit dat munisipaliteite dikwels traag is om teen die besetters op te tree dra volgens hom by tot die probleem. Hoffman sê die VF Plus plaas gereeld druk op munisipaliteite om teen grondbesetters op te tree.
Waar dit by privaatgrond kom moedig die VF Plus grondeienaars aan om hofbevele teen die besetters te kry en stel hulle in kontak met die regte mense wat hulle in die proses kan bystaan.
Die VF Plus plaas ook gereeld druk op die polisie om uitsettingsbevele uit te voer, aangesien daar dikwels probleme met die uitvoering van hofbevele is.
Hoffman sê onwettige grondbesetting plaas druk op bestaande infrastruktuur aangesien daar nie voorsiening gemaak word vir riolering en kragnetwerke vir al die onwettige besetters nie.
“Dit plaas druk op die bestaande krag- en rioolinfrastruktuur. Dit plaas enorme druk op kragnetwerke en is die rede waarom kragstasies ontplof. Dit kan ook waterdruk beïnvloed,” sê hy.
Volgens Hoffman is die proses om grondbesetters van eiendom af te kry vir privaateienaars dikwels baie duur en ingewikkeld, veral as dit landbougrond is.
Hy meen dat baie mense eenvoudig nie die geld het om om prosesse om van die besetters ontslae te raak van stapel te stuur nie.
Dit is dikwels ‘n uitgerekte proses en kan baie tyd neem.

Hoffman sê grondeienaars moet paraat wees en weet wat op hul eie grond, sowel as dié van hul bure aangaan.
“Ons kom baie dikwels agter dat grondeienaars eers ‘n paar dae nadat hul grond beset word agter kom dat die besetters daar is,” vertel hy.
Hoffman het ook voorgestel dat grondeienaars hul grond omhein.
“Dit moet duidelik afgemerk wees. Hulle moet ook bordjies aanbring wat duidelik aandui dat dit privaatgrond is,” stel hy voor.
Volgens Hoffman laat sommige grondeienaars slote om hul eiendom grawe om te verhoud dat voertuie op die perseel kom. Hoffman meen dit is belangrik dat plaaslike regering en nasionale regering, sowel as wetstoepassers teen grondbesetting optree.

“Dit is juis baie belangrik omdat die staat afhanklik is van belastings. Hulle hef belasting op gesoneerde, gestruktureerde stadsbepepanningsomgewings. Sodra jy wegbeweeg daarvan af, plaas dit enorme druk op die regering om watervoorsiening, kragvoorsiening en enige netwerkvoorsiening aan hierdie gebiede te bring.Verder kry hulle ook nie hul belastinggelde in van hierdie omgewings af nie,” sê hy.
Hoffman meen dit is belangrik om te kyk na stadsbeplanningsreëls en stadsbeplanning in die algemeen. Hy meen stadsraad se plig om strukture en by-wette te implementeer en konsekwent te reguleer, en dit is wat ons nie sien in die huidige stadium nie,” sluit hy
