News

Boy Louw-brug ‘n ongeluk wat wag

Brug is 'n groot bron tot kommer vir die gemeenskap.

VEREENIGING – Die meer as 70 jaar oue spoorwegduikweg in Boy Louwweg is in ’n kommerwekkende toestand, met groot krake, beskadigde beton en blootgestelde, geroeste staalversterking wat duidelik sigbaar is.

Foto’s wat Woensdag 23 September geneem is, wys ernstige verval aan verskeie dele van die struktuur. Van die beton aan die bokant van die duikweg het afgebreek, terwyl krake oor die brugdek en mure sigbaar is. Onder die brug is verdere skade aan die beton en plafon sigbaar.

Die toestand van die duikweg is veral kommerwekkend omdat dit ’n belangrike verkeersverbinding op Boy Louwweg vorm. Die R28 loop deur Boy Louwweg en verbind die Vereeniging-gebied met onder meer Sebokeng en ander dele van die Vaal.

Beskadigde beton is aan die onderkant van die meer as 70 jaar oue spoorwegduikweg sigbaar.

Die duikweg het reeds jare lank probleme met water en oorstromings gehad. In 2023 het die pad onder die brug só onbegaanbaar geraak dat motoriste die Sharpeville-ompad moes gebruik. Dit het groot hoeveelhede verkeer deur woongebiede gestuur.

Die pad is daarna vir sowat sewe maande gesluit terwyl herstelwerk gedoen is en is in Maart 2024 heropen. Kort ná die heropening het die gebied egter weer oorstroom. Die munisipaliteit het destyds aangedui dat ’n permanente kragopwekker aangeskaf word om die dreineringsprobleem te help aanspreek.

Die jongste probleem is egter nie net die padoppervlak nie, maar die toestand van die brugstruktuur self.

’n Ongeluk enkele maande gelede het die Dixon Batteries-advertensiebord wat aan die brug geheg was, beskadig. Die bord is intussen verwyder, maar die skade aan die beton is steeds duidelik sigbaar.

Die duikweg voor die ongeluk en die verwydering van die advertensiebord.

Op sommige plekke is stukke beton afgebreek en die staalversterking wat binne die beton behoort te wees, lê oop. Die staal is sigbaar geroes.

Groot krake is ook in die beton aan die bokant van die brug sigbaar. Onder die spoorlyn is verdere krake en tekens van langdurige slytasie sigbaar.

Die brug word boonop steeds deur spoorverkeer gebruik. Die kombinasie van ouderdom, waterblootstelling, korrosie, vorige skade en die onlangse ongeluk behoort volgens inwoners dringend deur ’n gekwalifiseerde strukturele ingenieur ondersoek te word.

Die presiese omvang van die strukturele skade kan egter nie bloot uit foto’s bepaal word nie.

Die kommer is dat los beton of ander materiaal van die brug kan val op voertuie wat onderdeur ry. Met die groot hoeveelheid verkeer wat daagliks van die duikweg gebruik maak, kan enige strukturele mislukking ernstige gevolge hê.

’n Beskadigde gedeelte van die brug se beton wys blootgestelde staalversterking en diep krake. Die skade is ná ’n onlangse ongeluk verder sigbaar.

Die pad se geskiedenis wys reeds hoe groot die impak van probleme by die duikweg op die omliggende gemeenskappe kan wees. Toe Boy Louwweg gesluit was, is verkeer deur Sharpeville herlei, waar inwoners oor stof, spoed en die verhoogde verkeersvolume gekla het.

Die sigbare toestand van die brug maak ’n dringende professionele inspeksie nodig om vas te stel of die skade kosmeties is, of of dit die strukturele veiligheid van die duikweg raak.

’n Brug wat daagliks deur motoriste gebruik word en waarop ’n spoorlyn steeds in gebruik is, behoort nie eers ná ’n ramp ondersoek te word nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button