NationalNews

Ligte aardbewing in nag-ure in Vaal gevoel

Vir sommige het dit net na ‘n vinnige rukwind geklink .... en ander het alles gemis!

EERSTE GEPUBLISEER IN VAALWEEKBLAD SE UITGAWE VAN 4 AUGUSTUS 2021

Naguile en ligte slapers van die Vaaldriehoek het Sondagoggend, 1 Augustus, om 00:43 ‘n trilling gevoel wat selfs die streek se voëls versteur het.

Volgens verskeie seismografiese data-webwerwe het die trilling 3.3 op die Richterskaal gemeet. Die episentrum was 12 km suidwes van Westonaria en sowat 10 km ondergronds. Die eerste trilling is so 50 minute later (om 01:26) met ‘n na-skok van 2.6 op die Richterskaal opgevolg. Honderde van Vaalweekblad se Facebook-lesers wat in die vroeë oggendure nog wakker was, het kort na die eerste trilling laat weet dat hulle dit gevoel het.

Inwoners van Meyerton, Rothdene, Falcon Ridge, Waldrift, die Vereeniging-middestad, Drie Riviere, Rust-ter-Vaal, Roshnee, Vanderbijlpark se dorpsgebiede en hoewes, Vaaloewer tot in Sasolburg, Parys en Vredefort het laat weet dat hulle die trilling duidelik kon voel. Sommige inwoners van Vanderbijlpark het aanvanklik gemeen die dreuning en trilling was te wyte aan die water wat na hulle huise se pype teruggekeer het nadat die Emfuleni-munisipaliteit die dorp se water Vrydagaand vir herstelwerk onderbreek het.

Spokie Strydom van CE2 sê die skudding was so erg, sy het gedink hul woonstelblok word geskuif. Ferdi Welmans van Vereeniging sê hy het nie net die trilling gevoel nie maar ook gehoor. Selfs die honde het erg geblaf en die duiwe het gevlug. Liezel Senekal van Arconpark het ook laat weet die voëls, selfs die hadedas in haar omgewing, het “mal gegaan”. Lori Batista van SE2, Vanderbijlpark, sê sy het haar boeglam geskrik. “Dit was so sterk… met ‘n rommeling net voor die skudding en stilte daarna, en toe gaan die diere en voëls behoorlik tekere.”

Maleny de Beer van Parys sê sy het wakker geskrik van die trilling. Christelee Esterhuizen van Meyerton sê sy het nie regtig die trilling gevoel nie maar wel die rommeling gehoor. Erika de la Hunt van CE3, Vanderbijlpark, sê sy het vir ‘n oomblik gedink dis iemand wat in haar erf rondsluip en dit reggekry het om haar garagedeur oop te ruk. Liza Rolfe van CE4 sê haar dak het geskud en teëls in haar stort het gevibreer.

Vir sommige het dit net na ‘n vinnige rukwind geklink en ander het alles gemis, soos Myra Rouncivell van Meyerton. “Almal in die huis het dit gevoel, behalwe ek. Dis weird want ons was in dieselfde vertrek,” sê sy.  

Volgens die webtuiste www.volcanodiscovery.com/earthquakes/south-africa het ‘n skudding wat 3.5 op die Richterskaal gemeet het, ook op 30 Julie om 06:34, sowat 4.3 km suidwes van Boksburg, plaasgevind. Dit was ook ongeveer 10 km ondergronds.

Die vorige noemenswaardige aardbewing wat in die Vaaldriehoek gevoel is, was op 7 Maart 2019. Dit het om 11:30 die oggend op ‘n 10 km-diepte in Fochville plaasgevind en 4.7 op die Richterskaal geregistreer.

Die episentrum van 1 Augustus se ligte aardbewing wat ook in die Vaaldriehoek gevoel is, word hier met ‘n rooi kol aangedui. Grafika: earthquake.usgs.gov

***********************************************************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button