
Deur Raadsheer Phil C. Pretorius, DA-Hoofsweep: Midvaal Minusipaliteit
Die wêreld is in konflik oor ʼn inenting. Vaksine of inenting of JAB as u verkies. Ek sien vriende wat mekaar aanvat en slegsê oor die onderwerp. Ek sien vriende en familie wat verhoudinge opbreek oor opinies m.b.t. die inentings. Ons ken teen die tyd die benamings “keyboard warrior” en “online troll” vir persone wat uitgesproke op sosiale media selfs familie aanvat en goedsmoeds opmerkings en beledigings uitdeel. Weereens is dit ʼn handjie vol mense wat deur sulke aksies negatiewe opmerkings maak en sosiale media se naam versleg.
As akademikus is ek op ʼn missie om mense bewus te maak dat die media as geheel meer positiewe uitwerkings het as negatiewes. Vir dieselfde rede het sosiale media positiewe aanwendings bv.: sosiale leer, modellering, informasie disseminasie en vermaak. Die feit dat sekere mense sosiale media aanwend om ongeldige mediese raad, fyngeredigeerde propagandavideo’s en –foto’s, asook blatante liegstories te skep en versprei is egter ʼn hartseer uitvloeisel van goeie intensies deur die skeppers van sosiale media. Met ʼn basiese begrip van kommunikasie kan ek met redelike outoriteit (let wel nie ABSOLUTE outoriteit nie) praat van propaganda, oorreding en assimilasie.
Hierdie fopnuus (fake news) kan lewens eis. Ek is nie hier om my uit te spreek oor die effektiwiteit van die inenting nie (want dit sal skynheilig wees) maar bloot om basiese feite uit te lig. Dit bly elke persoon se reg om self te besluit of hy/sy die inenting wil kry of nie. Dit is egter menslike natuur om mekaar aan te vat oor verskille in opinies en interpretasies.
U sal die novelle Lord of the Flies (1954) deur Nobelpryswenner William Golding onthou van skool voorgeskrewe werke en die films deur Peter Brook (1963) en Harry Hook (1990). Temas wat die funksionering van beskawings asook magsbeheptheid, individualiteit en vryheid van spraak aanspreek kom wyd in die werke voor. Dit fokus in ʼn groot mate op die konsep van GROEPSDINK. Die idee van groepsdink is dat lede van ʼn groep, vir welke rede ook al, nie hulle eie opinies vorm of kommunikeer nie maar eerder die van die leier of die een wat die hardste skreeu aanhang.
Dit kan wees dat daar nie begrip is vir die feite nie of selfs dat daar groepsdruk is en dat vrees ʼn rol speel. Wat sosiale media en die inenting betref het ek die mees absurde plasings en teorieë oor die inentings al raakgeloop. Soos met enige belangrike besluite in mens se lewe moet deeglike gefundeerde navorsing gedoen word onder geloofwaardige bronne om ʼn geldigheid en betroubare gevolgrekking of voorspelling te kan maak. Sosiale media, jou gunsteling populêre tydskrif, Wikipedia en jou buurman is nie geldig en betroubaar nie. Nie omdat ek so sê nie, maar omrede eeuelange wetenskaplike navorsingsmetodiek dit bewys het.
Ek wil dus vir ons gemeenskap vra om verdraagsaam te wees en met respek en nederigheid met mense in verhoudings te tree, al is dit vir ʼn driewoordplasing op Facebook. Almal rondom ons veg oorloë waarvan ons niks weet nie.
Trotse Midvaal Groete
Phil
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

*****************************************************************************************************
