Dit was ‘n 4×4 avontuur, ek het bestuur!
Op 'n ligter trant. Die slag wat ek probeer het om (onwetend) 'n SA kampioen renjaer verby te vat op die oop pad.
In 2002 was ek ‘n landbouskrywer wat ‘n bakkie bekendstelling moes bywoon.
Ons, dis nou meer spesifiek motorjoernaliste en ek, het in Pretoria bymekaargekom.
Ek het gevrees ons sal die nuwe bakkies moes toetsbestuur.
Ek was in daardie stadium nie ‘n gesoute bestuurder nie. Ek was reg.
Kort na die toesprake het al wat joernalis is, agter die stuurwiel van ‘n blinknuwe bakkie ingeskuif.
Netjies agtermekaar was ons op pad in die rigting van Dullstroom.
Ek het een van die bemarkingsmanne oorgehaal om saam met my te ry.
Hy het ingestem, maar nie om te bestuur soos wat ek gehoop het nie, sommer net om saam te ry.
Elke nou en dan het die lang trein bakkies gestop om bestuurders te ruil.
Ons moes darem die hele reeks beproef voor die einde van die rit.
Op ‘n kol is ek en die bemarkingsman toe reg agter die voorste bakkie. Ek het aangeneem dis een van die organiseerders agter die stuur.
Bemarkingsman sê vir my: “Gaan verby.” Ek luister. Reg langs die voorste bakkie, gee dié skielik vet.
“Trap hom”, kry ek opdrag en ek probeer my bes, maar verby die voorste bakkie kom ek nie.
Ek sien die bestuurder skud soos hy lag.
Die middag beland ons by ‘n 4×4 baan. Dis ‘n vreeslike ding. Net hellings, dongas en afdraandes en nee, net nee. Ek skop viervoet vas.
Die manne. Ja, dit was almal manne en gesoute motorjoernaliste sukkel. Hulle moet dieselfde opdraande so paar maal vat voordat hul bo uitkom.
Die man wat die voorste bakkie bestuur het, verskyn langs my.
“Ek sal bestuur. Ry jy net saam. Dis lekker man,” praat hy my om. As passasier raak ek benoud, maar dit lyk darem asof die man weet wat hy doen.
Seepglad, hy hoef niks twee keer te doen nie. Anderkant uit, sê hy: “Nou is dit jou beurt.” Ek protesteer.
Die gesoute motorjoernaliste grinnik. Ek gee in.
My hande klem om die stuur. “Ontspan”, sê die man wat lyk asof hy weet wat hy doen en klim aan die passasierskant in.
“Doen presies wat ek vir jou sê.” Vir eenmaal in my lewe luister ek en doen presies wat hy sê.
Alles verloop seepglad. Op die walle lyk die manne taamlik bekaf.
“Dit help as mens vir Hannes Grobler het om jou touwys te maak,” brom een.
“Wie?,” vra ek. Die manne kry amper ‘n toeval. “Dis Hannes Grobler. Suid-Afrikaanse veldwedren-kampioen. Hy het Springbokkleure gekry vir motorsport!”, lig hulle my in.
“Oh genade! Geen wonder hy het so gelag toe ek hom probeer verbyvat het nie,” my enigste kommentaar tot groot vermaak van almal, die kampioen inkluis.
