News

Rubriek: Sommige mense is lekker deur die blare

Kyk mooi wat jy bymekaarmaak in die lewe.

Wanneer dinge noustrop trek staan die balju voor jou deur voordat jy jou oë uitvee. Dis ‘n realiteit.

Daar word altyd gespot oor of die gimnasium nou spiere kom terugvat as jy nie betaal nie. Ek glo darem nie. Nou wat van tuindienste?

Wel, ek sou dit nie glo as ek dit nie vandeesweek met my eie oë gesien gebeur het nie.

In die straat waar ek woon is daar… kom ons noem dit ‘n kommune – vir die gebrek aan ‘n beter woord – waar kelners, wagte, petroljoggies en kassiere wat in die omgewing werk, woon. Terwyl ek in my oprit sit en wag dat my hek oopgaan, vang iets my oog.

Sakke vol blare wat deur ‘n werker op die sypaadjie uitgestrooi word terwyl die eienaar van die tuindienste in die bakkie sit en wag. Eers kliek ek nie wat voor my afspeel nie.

Na ‘n eureka-oomblik… begin ek en my jongste spruit proes van die lag.

Ek stel toe voor dat ons bietjie sit en wag. Ons hoef nie te lank te wag nie. Geklee in ‘n japon en pantoffels kom een van die inwoners uitgeloop met haar selfoon teen haar oor gedruk en beduie wild met haar hande terwyl sy op die foon praat.

Foto’s word geneem van die blaarontploffing buite hul palisadeheining. Dit laat my toe dink. Hoewel dit waarskynlik baie lekker gevoel het om die blare te strooi, dink ek nie dat die teikenmark werklik te veel slaap daaroor gaan verloor nie.

Net soos die inwoners wat hul swart sakke voor ELM se kantore aflaai. Jy ontlaai bietjie frustrasies en maak hopelik ‘n stelling, maar dit is dit. Deesdae besit mens amper niks. Dink net daaraan. Wie koop nog CD’s en plate?

Bitter min mense. Alles is in die cloud en as jy nie jou subskripsie vir Spotify of Google Drive betaal nie, word jou toegang tot jou “eiendom” beperk.

Ek het myself voorgeneem om slegs memories bymekaar te maak. Lekker dinge te doen! Niemand kan dit tog van jou af wegvat nie.

Vra jouself bietjie… wanneer laas het ek iets lekker gedoen? Fokus op dit eerder as die sakke vol dooie blare wat voor jou deur gestrooi word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button