News

Swartrug jakkals in Vaal-woonbuurt ontdek

Dit is uiters ongewoon om ’n swartrug jakkals in so ’n digbeboude woongebied aan te tref.

VEREENIGING – Inwoners van Drie Riviere was verlede maand verras toe ’n swartrug jakkals in die middel van die woonbuurt gevind is.

Volgens Dalene Venter, raadslid vir Drie Riviere, is die dier op die laaste dag van April naby die hoek van Brak- en Umgenistraat, naby die NG Kerk Drie Riviere, aangetref.

Venter sê die dier is ontdek nadat ’n bejaarde inwoner haar gekontak het. “Toe ons daar kom was die dier nog warm.

Dit lyk of hy moontlik sy agterpoot gebreek het.

Dalk is hy deur ’n voertuig getref,” het Venter gesê. Volgens haar is die jakkals na ’n plaaslike veearts geneem waar dit veras is.

Mike Maxwell, lid van die plaaslike wykskomitee en verbonde aan Veldgidsvereniging van SuidAfrika, (FGASA), sê dit is baie ongewoon om ’n swartrug jakkals in ’n digbeboude woongebied aan te tref.

“Hulle vermy gewoonlik mense en sal eerder wegbeweeg. Dit is waarskynlik ’n eenmalige voorval,” het hy gesê.

Maxwell meen die dier kon moontlik op soek gewees het na kos, aangesien jakkalse opportunistiese aasvreters en jagters is.

“Jakkalse hou nie werklik ‘n bedreiging vir mense se troeteldiere in nie. Hulle sal mense eerder vermy en dit is baie ongewoon om hulle in ’n woongebied aan te tref,” het Maxwell gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button