Pampoene in ‘n lemoenboom?
Nie iets wat mens elke dag sien nie. Pampoene wat dink hulle is lemoene en nou praat ons nie van lemoenpampoentjies nie.
SASOLBURG – ‘n Mens sou kon dink dis ‘n April-gek grap of dalk met kunsmatige intelligensie gefrabiseer. Toe nou nie. Die lemoenboom dra pampoene. Ok. Nie heeltemal waar nie. Die pampoenplant het teen die lemoenboom opgerank en nou hang daar pampoene tussen die lemoene.

Hannes Venter sê hy het nog nooit so iets gesien nie. Vlak onder die lemoenboom is sy kosmoshoop en Maartmaand het ʼn pampoenplant sy verskyning vanuit die komposhoop gemaak. Dit het begin rank in alle rigtings. Op die grond, teen die muur op en teen die lemoenboom op.
Tot die nabygeleë perskeboom is besig om deur te loop. Ten spyte van die pampoenranke in sy takke staan die lemoenboom so sterk soos altyd. Die nuwe seisoen se lemoene groei mooi, dis net die pampoene wat hoog in die takke hang wat mens verstom laat.

Die wat op die grond groei het Hannes en sy vrou, Bettie al gepluk en gaargemaak. “Ons het al van ʼn 2.5 kg tot by ʼn 5 kg pampoen gekry. Dit smaak heel lekker,” vertel Hannes.
Presies tot waar die ranke nog gaan strek is nie seker nie, dis ʼn pampoenmonster van ʼn ander aard wat met sy groot blare en sterk ranke duidelik vele hoogtes wil bereik.
