Massiewe waterlek in SE1, Vanderbijlpark
Die probleem is by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit aangemeld. Klagtes oor 'n wateronderbreking in sekere S-areas is moontlik te wyte aan die lek.
Baie lesers het Vaalweekblad sedert gisteraand en laasnag laat weet dat daar ‘n massiewe waterlek in die omgewing van Christiaan de Wetstraat in Vanderbijlpark is.
‘n Groot boog water spuit uit ‘n gebarste pyp (vermoedelik) en die water stroom reeds soos ‘n rivier met die pad af. Bestuur maar versigtig as jy daar moet ry.
Die waterlek is by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit aangemeld. ‘n Leser wat pas daar verby is, laat weet dat daar ‘n voertuig van Rand Water staan, so die probleem kry hopelik dringende aandag.
Sommige lesers in die S-areas het laat weet dat hulle tans nie water het nie – dit is vermoedelik te wyte aan hierdie probleem. Meer inligting volg soos wat die dag vorder.


