LifestyleNews

Staatshospitaal se geriewe benodig dringend aandag

Vaalweekblad kon ongelukkig nie die amptelike kliëntediensbeampte of woordvoerder van die hospitaal bereik nie, maar ons het die klagte weer onder die personeel se aandag gebring.

Anita Olivier van Vanderbijlpark skryf:

Ek is gewoonlik ‘n positiewe mens en vredeliewende landsburger. Gedurende die afgelope ses weke het ek die Johan Heyns-hospitaal in Vanderbijlpark by die lapa se Covid-19 inentingsarea besoek vir my eerste Pfizer-inenting op 18 Junie asook weer op Vrydag 30 Julie vir my tweede inenting, en op Maandag 2 Augustus as ‘n besoeker.

Die ablusiefasiliteite vir die publiek het van beroerd na uiters sleg verswak in die tydperk sedert my eerste besoek aan die lapa-area. Die mans se fasiliteit was wel oop, maar ernstige dreineringsprobleme kom voor by die geboutjie en die vrouefasiliteit was reeds gesluit. ‘n Paar vroue het op 2 Augustus protes gaan aanteken aangesien honderde wagtende mense, meestal bejaardes, van vroeg af die koue en die onaanvaarbare situasie daar moes trotseer.

By navraag by personeel by die lapa deur ‘n paar lede van die publiek oor die bruikbaarheid en toestand van die ablusiegeriewe, was die reaksie van personeel by die lapa nie positief nie. Twee personeellede het gesê dat hul dit wel sal aanmeld, maar dat ek dit maar self verder moes rapporteer. Geen name kon egter verstrek word oor wie verantwoordelikheid sou neem vir die situasie nie. Slegs een personeellid het gemeld dat dit reeds gerapporteer is, maar dat sy nie weet wanneer dit aandag sou geniet nie.

Geen een van die personeel wat genader is, het alternatiewe voorstelle gemaak of ‘n senior persoon ingeroep om die saak te beredder nie. Hoe jammer dat ‘n staatshospitaal wat ‘n belangrike diens aan die publiek verskaf, in hierdie ernstige Covid-tyd nie eers die mees basiese dienste kan verskaf nie. Let wel, die gemiddelde wagtyd vir persone wat vir die tweede inentings by Johan Heyns-hospitaal opgedaag het op 30 Julie en 2 Augustus, was tussen drie en vier ure, meestal staande en buite in die koue. Ek het die situasie op 2 Augustus gemonitor en kon sien hoe bejaarde en ander mense daar swaargekry het.

Die diens was ook uiters stadig op die genoemde twee dae (30 Julie en 2 Augustus). Ek sou graag wil verneem wat die staat gaan doen om hul diens en ablusiegeriewe te verbeter.

* Vaalweekblad kon ongelukkig nie die amptelike kliëntediensbeampte of woordvoerder van die hospitaal bereik nie, maar ons het die klagte weer onder die personeel se aandag gebring.

Vaalweekblad moet ook byvoeg dat heelwat lesers op ons Facebook-profiele laat weet het dat hulle baie tevrede is met die vriendelike diens wat hulle daar ontvang het.

Een van talle mense wat reeds inge-ent is by die Johan Heyns-hospitaal

****************************************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button