Rowers loop hul rieme styf tydens rooftog by huis in Meyerton
Drie gewapende rowers het hulle rieme styfgeloop toe hulle Donderdag, 12 Augustus tydens ‘n mislukte gewapende rooftog by ‘n huis in Gemsbokstraat, Uitbreiding 6, in hegtenis geneem is.
Danksy die flink reaksie van die gewapende reaksiemaatskappy Afri Guard en die polisie kon die verdagtes op die toneel aangekeer word.
Daar is ook op twee handwapens wat tydens die rooftog gebruik is, beslag gelê.
Volgens konst. Tlaleng Moloi, polisiewoorvoerder, was die slagoffer die betrokke middag besig om met haar dogter in die voertuig, uit die erf te ry toe die rowers hul opwagting gemaak het.
“Die vrou het probeer om die hek oop te maak, maar dit het nie gewerk nie. Sy het uit die kar geklim om te kyk wat fout is.
“Die vrou het toe ontdek dat die hek se spoor gebuig is. Sy het die hek teruggestoot en na die voertuig teruggekeer.
“Voordat sy weer in die kar kon klim, het een van die mans sy hand oor haar mond gesit. Sy het toe die ander twee ook gesien,” vertel sy.
Volgens Moloi het sy gemerk dat een van die mans met ‘n pistool gewapen was.

Volgens hom het hulle die sleutel vir die huis by haar afgeneem en die vrou en haar dogter terug in die huis geboender.
Daarna het hulle die vrou, haar dogter en die huiswerker beveel om te gaan sit, waarna hulle vasgebind is.
Volgens Francois Uys, operasionele bestuurder van Afri Guard, het hulle omstreeks 14:54 ‘n oproep ontvang, waarna die taktiese eenheid na die slagoffers se huis ontbied is.
Volgens Uys het Afri Guard se beampte toegang tot die slagoffer se perseel deur die agterdeur bekom. Hy het eers ‘n waarskuwingskoot afgevuur en kon daarin slaag om die verdagtes te ontwapen.

Buiten die wapens is daar ook op selfone, handskoene en ‘n gesteelde Volkswagen Kombi beslag gelê.
Die mans is in hegtenis geneem en moes in die streekhof in Vereeniging verskyn.
Die distrik-kommissaris, maj.-genl. Zodwa Molefe, het die polisie en die gemeenskap bedank vir die rol wat hul speel om die polisie se hand te versterk ten einde misdaad te beveg.

