‘Vat aan my vrou, dan vat jy aan my,’ waarsku bekende radioman Shawn Deysel na rooftog
Shawn se vrou, Karen, is in hul huis deur rowers oorrompel
VEREENIGING. – “Die artikels wat gesteel is, is ‘n groot finansiële verlies vir ons, maar ek is oorweldigend dankbaar dat my vrou oukei is.”
Só sê Shawn Deysel, bemarkingsbestuurder by Makro en gewilde radiopersoonlikheid van die Vaaldriehoek, nadat sy vrou Karen Vrydag by hul huis in Drie Riviere deur rowers aangehou en beroof is.
Karen was Vrydag omstreeks 12:00 alleen tuis en het TV in die sitkamer gekyk toe die twee rowers skielik langs haar staan. Sy het opgespring en hulle het haar na die slaapkamers gedwing. Terwyl hulle in die gang geloop het, kon sy sien die spaarkamer se venster was oop en die diefwering weggebuig. Sy het ook gesien dat hulle reeds al die kamers deursoek en die inhoud van kaste uitgegooi het.
Die rowers wou weet waar die kluis, geld en vuurwapens was. Toe Karen sê hulle het nie ‘n kluis of wapens nie, het die aanvallers hardhandig geraak en ‘n pistool teen haar kop gedruk. Sy het aanhoudend gesê daar is regtig geen kluis nie, waarna hulle haar blykbaar geglo en haar beursie met bankkaarte op die bed uitgegooi en haar geheime pinkodes geëis het. Sy het voorgegee dat dit haar man se kaarte was en dat sy nie die pinkodes ken nie. Hulle het gelukkig haar beursie met al haar kaarte net so laat lê en haar vir haar karsleutel gevra. Sy is gedwing om hulle te gaan wys hoe om die motorhuisdeur oop te maak en haar voertuig, ‘n wit Chev Captiva SUV, aan te skakel.
Karen het deurgaans moeite gedoen om kalm te bly en met die rowers te gesels om hulle ook rustig te hou. In ‘n poging om hul simpatie te kry, het sy gesê dat sy haar werk verloor het en nie ‘n inkomste het nie. Die rowers, wat fyngebou en vermoedelik in hul vroeë 20’s is, het daarop gesê “times are tough” en dat hulle moet roof omdat hulle honger is en kos nodig het.
Karen, wat self fyngebou is, is terugeneem na die hoofslaapkamer, waar hulle haar hande vasgebind en haar in ‘n stikdonker instapklerekas toegesluit het. ‘n Voorwerp is ook in haar mond gedruk sodat sy nie om hulp kon roep nie.
Toe die egpaar se seun 2½ ure later tuiskom en sien die motorhuisdeur staan oop en die voertuig is weg, het hy onmiddellik geweet iets is fout. Hy kon die verwoesting in die huis sien en het dadelik na sy ma begin soek. Hy het Karen in die instapklerekas aangetref, waar sy reeds die toue om haar polse losgewikkel het en onsuksesvol probeer het om die klerekasdeur met ‘n draadhanger oop te kry.
Nadat hulle Shawn gebel het, het hy dadelik hul GPF-tak van die rooftog laat weet en van die werk af huis toe gejaag.
“Ek moet die SAPD en veiligheidsinstansies loof vir hul vinnige optrede. Toe ek by ons huis stop, was hier reeds ‘n oorvloed van hulle. Ek het nie besef ons het nog soveel goeie polisielede nie. Hulle het hul ondersoekwerk professioneel gedoen en deeglike skoenspoor- en vingerafdrukke geneem. Hulle verdien ‘n klop op die skouer,” sê Shawn.
Behalwe vir ‘n kneusplek aan haar been waar een van die rowers haar geskop het, is Karen gelukkig nie beseer nie. Buiten haar voertuig is die gesin se platskerm-TV’s, skootrekenaars, rekenaartablette, selfone, horlosies en ander juweliersware gesteel. Niks van die gesteelde goedere is nog teruggevind nie.
“Ek glo die feit dat Karen heeltyd kopgehou en kalm gebly het, het dalk haar lewe gered of voorkom dat sy fisies erger beseer is,” sê Shawn.
Die Deysel-egpaar was mekaar se jeugliefde. Hulle het reeds in 1985 op skool ontmoet toe Karen 15 en Shawn 16 was. Hulle is in 1990 getroud en hul verhouding het deur die jare net sterker geword.
Hoewel hy dankbaar is dat die rowers haar nie ernstig beseer het nie, is Shawn woedend oor die aanval. “As jy aan my vrou vat, vat jy aan my,” is sy waarskuwing aan die rowers.

