Bekende egpaar moet sonder ‘n laaste groet afskeid neem van oudste dogter
“Ons sukkel nog om die werklikheid te aanvaar omdat daar geen afskeid was nie”
VANDERBIJLPARK. – ‘n Bekende egpaar van die Vaaldriehoek, prof. Piet en mev. Maggie Swanepoel, het verlede Maandag, 9 Augustus, die skoknuus ontvang dat hul dogter, Mariette Dreyer (52), in die hospitaal gesterf het sonder dat hulle haar vir oulaas kon groet.
“Ons sukkel nog om die werklikheid te aanvaar omdat daar geen afskeid was nie,” sê Maggie, jarelange voorslagbestuurslid van die vroue-organisasie Dink-en-Doen in Vanderbijlpark.
Prof. Piet het meer as 50 jaar diep spore in die operasionele en logistieke sake van die Vaaldriehoekse Universiteit vir Tegnologie (VUT) getrap.Mariette was hul oudste dogter en het in Vanderbijlpark grootgeword, waar sy aan die Laerskool Kollegepark en Hoërskool Driehoek skoolgegaan het.
Na haar matriek in 1986 het sy in ‘n B-Com-rigting aan die destydse Potchefstroomse Universiteit studeer, waarna sy in 1990 vir ‘n paar maande as redaksiesekretaresse by Vaalweekblad en Ster gewerk het.Hier het sy haar kollegas nie net beïndruk met haar flink organiseringsvermoë nie, maar ook met haar sonnige en opbeurende geaardheid. Sy het mettertyd ook by CWI, Life Health Care, Verang en Sappi gewerk. Sy en haar twee kinders uit haar eerste huwelik, Martiënne en Marnus, het hulle later in Johannesburg gevestig, waar sy tot met haar heengaan aan Standard Bank verbonde was.
Sy is drie jaar gelede met Hardus Dreyer, ‘n ou skoolvriend, getroud en het haar in Pretoria by hom aangesluit.“Mariette was baie lief vir skilder en om ou meubels te verf en te verander. So het meeste van die familielede elkeen twee kussings gekry met proteas op, wat dit nou ekstra spesiaal vir ons maak.“Familie was vir haar baie belangrik. Op Vadersdag het Mariette spesiaal gekom om die dag vir haar pa besonders te maak. Dit was ook die laaste keer dat ons haar gesien het, want Covid het daarna op ons familie toegeslaan. Haar suster Sandra en haar seun en dogter was baie siek, terwyl haar niggie en kleinseun dit lig gekry het.“Mariette en haar man is daarna vir ‘n week see toe, toe hy ook siek word en opgeneem is.
Mariette het ook siek geword en haarself ‘n paar dae by die huis behandel totdat sy op 13 Julie in dieselfde hospitaal as haar man opgeneem is. Sy is dadelik op ‘n ventilator geplaas. Omdat sy ‘n asmalyer was, het sy brongiale spasma gekry en was haar longe erg deur Covid geaffekteer. Haar toestand het wipplank gery en net haar dogter is toegelaat om haar te besoek. Sy kon sien hoe haar ma se toestand versleg. Op 9 Augustus om 22:10 het Mariette haar stryd verloor, sê Maggie.
“Sy was ‘n sonstraalmens, vol drome en ideale, met ‘n groot liefde vir haar kinders en haar kleinseun Jayden. Sy wou so graag goed doen aan ander. Ons harte is stukkend maar ons sal haar onthou as ‘n vrou wat die Here geken en dit uitgeleef het.”
Mariette se begrafnisdiens is Dinsdag, 17 Augustus, vanuit die NG Gemeente Tygerpoort in Pretoria gehou. Sy sou op 5 September 53 geword het.



********************************************************************************************************************
