Pastoor sonder maniere
Ligte-leesstof. 'n Papgegaai kan baie lawaai, maar soms kan mens maar net lag vir hul lawwighede.
Ons het die nuwe African Grey so ‘n paar maande gelede gekry. Sy naam is Pastoor, maar hy noem homself Pastoortjie.
Vyf jaar oud, sy eerste familie het na ‘n ander land verhuis, dié dat hy by ons kom bly het.
Ma sit in die oggende vir hom ‘n musiek DVD aan. Hy het ‘n voorliefde vir die musiek van Andre Rieu en Cor Uys.
In die aande verkies hy musiekprente, soos Paint your Wagon, Sound of Music en Mary Poppins.
Hy kan nogal ‘n kabaal opskop as sy DVD klaar is en ons reageer nie vinnig genoeg nie.
Vol geite ook oor wat hy eet en nie eet nie. Hy hou van wortels, maar dit moet in riffel ringetjies gesny wees anders gooi hy dit dat dit daar trek.
Pastoortjie doop ook eers elke wortelringetjie in sy bak met water voordat hy dit eet.
Hoekom sal net hy weet, maar Ma moet ‘n paar maal per dag vir hom skoon water gee, omdat hy kos in sy water gooi.
Dalk wil hy groentesop kook of vrugtesap maak. Net hy sal weet.
Kom ek nou die dag agter Pastoor hou nie van blomme nie. Ek het ‘n groot mandjie met blomme van my werksmense gekry.
Aangesien ek en Ma al ons etes rondom die kombuistafel geniet, het ek die mandjie op die tafel gesit sodat ons die mooi kan waardeer terwyl ons eet.
Die blomme het baie mooi op die tafel gelyk totdat Pastoorjie ingekom het.
Sy hok is op wieletjies en in die middae staan hy in die kombuis sodat hy by die venster kan uitkyk. Die kombuis is ook dan warmer as die sitkamer.
Oh jinne, toe hy daardie mandjie met blomme sien, toe skrik hy so groot hy val van sy stok af. Ek moes dadelik die blomme kamer toe skuif.
‘n Paar dae later kry ek nog ‘n ruiker blomme, die keer van my vriende by die Rotariërs.
Die blomme was nie in so ‘n groot mandjie nie en weer sit ek dit op die tafel neer in die kombuis. Pastoortjie word ingestoot.
Die keer het hy darem nie van die stok afgeval nie, maar die drama-koning het summier in die boonste hoek van sy hok aan die drade gaan klou totdat ek die blomme ook kamer toe geskuif het.
Daarna het hy doodluiters weer op sy swaai gaan sit.
Praat kan hy nogal baie praat vir so ‘n jong papegaai. Staan ek nou die dag en skottelgoed was. Ma is doenig in die sitkamer.
Volgende oomblik hoor ek sy vra: “Is die krag alweer af?”
Ek kyk so ewe op na die kombuislig om te sien of dit nog brand en antwoord terug: “Die krag is nog aan Ma.”
Begin Ma te lag. “Dit was Pastoortjie wat gevra het, nie ek nie.” Wys jou net hoe baie kragonderbrekings is daar in ons buurt!
Hy roep gereeld die honde, veral vir Bessie, maar sy steur haar nie aan hom nie.
Baba Bessie is in haar rebelse tiener stadium en luister op die oomblik vir niemand nie.
Verder vind Pastoor behae daarin om vir Ma met my stem te roep en vir my met Ma se stem. Hy vang ons elke keer!
Ek wag vir die dag wat hy ook, “dit was nie ek nie, dit was die papegaai,” gaan sê.
Elke aand sê hy baie mooi vir homself, “nag Pastoortjie. Lekker slaap,” maar ongelukkig ontbreek die maniere nog as jy vir hom iets gee.
Gryp en loop werk vir hom veel beter as dankie en asseblief..
