DBV benodig dringend komberse
Terwyl mense hul lekker warm baadjies aantrek, of voor die verwarmers ontspan is daar baie diere in die Vereeniging Diere Beskermings Vereniging (DBV) vir wie daar voorsorg getref moet word tydens die koue aande.

VEREENIGING – Die winter het nog nie eens amptelik aangebreek nie en Valies ervaar reeds kouer dae as wat die tyd van die jaar verwag word.
“Gedurende die langnaweek het ons inspekteurs ’n bang hond gered wat opgekrul op die koue, klam grond gevind is. Hy het geen skuiling gehad nie, geen beddegoed nie, net die ysige grond onder hom.
“Hy het nie gehuil of gehardloop nie… hy het bloot daar gelê, asof hy nie geweet het dat die lewe anders kan wees nie,” vertel Marlien de Klerk, bestuuder van die plaaslike DBV.
“Daardie aand het ons vir hom iets baie eenvoudig gegee… ’n sagte kombers. Vir die eerste keer het hy uitgestrek. Hy het diep geslaap. Warm. Veilig. Gemaklik,” vertel De Klerk.
Vandag slaap hy steeds so, danksy goedhartige ondersteuners van die DBV wat seker gemaak het dat die plaaslike tak komberse het toe dit ‘n noodsaaklikheid was.
“Ons is so dankbaar vir die ondersteuning, maar op die oomblik raak ons voorraad weer min. Met soveel honde en katte in ons sorg, en die koue wat nou behoorlik intrek, het ons dringend komberse nodig om hulle warm, droog en gemaklik te hou,” verduidelik De Klerk. “Elke kombers maak ‘n verskil.”

So kan jy help
* Skenk ’n kombers (of twee) deur dit by die DBV af te laai (verkieslik komberse wat gewas en hergebruik kan word – asseblief nie die grys PEP-komberse nie, aangesien hulle nie gewas kan word nie).
* Maak ’n finansiële bydrae, en ons sal komberse namens jou koop.
Afleweringsadres
DBV Vereeniging, Generaal Smutsstraat 66, Duncanville.
Bankbesonderhede
Rekeningnaam: Vereeniging SPCA
Rekeningtipe: ABSA Spaarrekening
Rekeningnommer: 9258578888
Tak: Vereeniging
Takkode: 632005
Verwysing: Blankets & jou naam
