Eenheid Byekorf gaan van krag tot krag
Die SA Weermagvereniging se Eenheid Byekorf het in hul algemene vergadering projekte bespreek en nuwe lede se sertifikate oorhandig.
VANDERBIJLPARK – Die SA Weermagvereniging se Eenheid Byekorf is in Oktober 2025 gestig met Julio Agrella as voorsitter en Cobus Cato as sersant-majoor. Sedertdien het die eenheid se ledetal tot 150 gegroei.
Die eenheid bestaan nie net uit weermagveterane nie, maar ook uit ondersteuners wat as vrywilligers help met die werksaamhede van die eenheid.

Dinsdagaand het hul weer ʼn algemene vergadering gehad waar huidige projekte en voorgestelde projekte bespreek is.
Projek Mahem, onder leiding van eenheidsadjudant Jaco van den Berg, fokus op die werwing van nuwe lede en om lede te help om by die departement van militêre veterane se databasis te registreer.
Ander projekte in die pyplyn sluit projek Dwergvalk in met ʼn fokus op jongmense en kinders, Projek Edelvalk waar lede gehelp sal word met die opstel van testamente en Projek Meerkat wat sal fokus op ʼn elite groep motorwagte vir die dorp.
Voorsitter Julio Agrella het van die geleentheid gebruik gemaak om lidmaatskapsertifikate aan twee nuwe lede, Ernest Eloff en Johan Cronjé te oorhandig.
Tydens die vergadering is daar ook ʼn minuut van stilte gehandhaaf vier die vier Parabats wat tydens die slag van Cassinga op 4 Mei 1978 oorlede is.
Volgens die SA Weermagvereniging se Facebookblad was die vier gestorwenes, JC De Waal, Eddie Backhouse, Skillie Human en Martin Kaplan deel van 367 Parabats wat daardie oggend oor Cassinga, ʼn terroriste basis aangeval het.
Daar is ʼn beroep op lede gedoen wat nog hul uniforms en insignia uit hul weermagdae het om dit vir die eenheid te skenk sodat die geskiedenis in ʼn uitstalling vasgevang kan word.
Almal wat in die voormalige SAW verpligte diensplig gedoen het, word uitgenooi om by Eenheid Byekorf aan te sluit. Kontak Jaco van den Berg op 083 756 4785 vir meer besonderhede.
