Voertuig en drie liggame uit rivier gehaal na botsing by brug
Genl.maj. Len Singh, waarnemende polisiekommissaris van die Vrystaat, bedank almal wat by die soektog van vier dae betrokke was.
Eerste gepubliseer in Vaalweekblad van 18 Augustus 2021
Retha Fitchat
ORANJEVILLE. – ‘n Tragedie het hom verlede week by dié gewilde hengelaarsparadys aan die Vaaldam afgespeel toe ‘n voertuig met drie insittendes teen ‘n brug gebots en in die Wilgerivier geval het. Al die insittendes het gesterf.
Volgens mnr. Jake Manten, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se tak in Deneysville, is hulle Maandag, 9 Augustus, omstreeks 12:00 in kennis gestel dat ‘n voertuig deur die relings van die Magrieta Prinsloo-brug op die R716-roete gebars en afgestort het. Dit het op die bodem van die rivier gelê waar die water sowat 23 meter diep is.
Die NSRI se reddingspan en polisieduikers is dadelik na die toneel om na die insittendes en voertuig te soek. Dit was in daardie stadium nog onbekend hoeveel mense in die rooi Kia Sportage was.
Die liggame van twee mans, Lucky Hlapo (20) en Thugela Mnguni (34), is Dinsdag in die water gevind en uitgehaal. Die ondersoek het tot Donderdag voortgeduur, toe die voertuig uiteindelik uit die water gelig kon word. Die liggaam van die voertuigbestuurder, Lefunyana Tsotetsi (42), was steeds agter die stuurwiel vasgevang. ‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
Buiten die NSRI en die SAPD het ER24 se ambulansdiens, die Vrystaatse provinsiale verkeersdiens, die Free State Government Health EMS, Sasolburg se brand- en nooddienste, en Suburban Control Centre ook bystand op die toneel verleen.
Genl.maj. Len Singh, waarnemende polisiekommissaris van die Vrystaat, het almal bedank wat by die soektog van vier dae betrokke was.



********************************************************************************************************************
