Pastoor Wimpie se boodskappe van hoop en liefde leef voort in baie harte
“Hy was ‘n omgee-mens wat enigiemand sou help waar hy kon. Ons gaan die woorde van hoop en liefde van God wat hy verkondig het, baie mis”
VEREENIGING. – Familie en vriende van pastoor Wimpie Myburgh van The Well-gemeente in Sonlandpark, moes op 9 Augustus met seer harte afskeid neem van dié man wat in sy 49 jaar soveel lewens ten goede aangeraak het.
Hy het op 9 Augustus tuis gesterf as gevolg van ‘n bloedklont, wat veroorsaak is as ‘n nagevolg van Covid-19.
Pastoor Wimpie is op 27 Februarie 1972 in die Vanderbijlpark-hospitaal gebore en het in Sasolburg en Vereeniging grootgeword, waar hy in 1990 aan HTS Vereeniging gematrikuleer het. Hy is in 1991 Weermag toe, waar hy etlike jare ‘n troepe-opleier was. In 1999 het hy sy eie sakeonderneming met die verskaffing van skoonmaakmiddels begin – ‘n onderneming wat steeds deur sy vrou, Hester, bedryf word. Hy en Hester het in 2005 ontmoet en is in 2007 getroud.
“Wimpie was van jongs-af baie gelowig,” sê sy broer, Andries. “Hy het grootgeword in die AGS Sasolburg-Suid en was later by die PPK Lighuis in Sonlandpark met jeugaksies betrokke, sowel as by jeugwerk van die Volle Evangelie Kerk (VEK) Duncanville, waar hy ‘n lidmaat was.”
Hy het sy pastorale studies in 2010 deur die VEK se Teologiese Kollege begin en sy Teologiese diploma einde 2013 ontvang. In 2014 het hy deel van die Chrisma Fellowship in Duncanville geword en in die middel van 2020, te midde van die inperking, besluit om sy eie kerk en gemeente te stig. Dit was die geboorte van The Well, wat vanaf sy hoewe in Sonlandpark begin funksioneer het.
“Wimpie was baie bekend en gewild onder bejaardes. Hy het weekliks bidure by ouetehuise so ver as Heidelberg aangebied. Hy het mense ook daagliks bedien met aanlynboodskappe en het weekliks dienste aangebied, wat op ’n wêreldwye Christen-radiostasie uitgesaai is. Die inperking kon hom nie stop om sosiale media of selfs die radiostasie te gebruik om die Bybel se boodskap na mense te bring nie,” sê sy broer.
“Op 28 Julie het hy ‘n biduur aangebied en is twee dae later ingelig dat daar positiewe gevalle aangemeld is van mense wat vermoedelik reeds die virus tydens die byeenkoms onder lede gehad het. Wimpie het vanaf 2 Augustus self Covid-19 simptome begin toon. Op 3 Augustus het hy sy laaste video-boodskap op Facebook gebring, waarna sy toestand vinnig versleg het,” sê Andries.
Aangesien geen Covid-beddens in die Vaaldriehoek beskikbaar was nie, is hy tuis met voorgeskrewe medikasie behandel. Hy het die oggend van 9 Augustus net voor 07:00 as gevolg van ‘n bloedklont, wat glo deur Covid-19 veroorsaak is, gesterf.
‘n Troosdiens is Maandag, 16 Augustus, by The Well gehou. Hoewel die diens net deur 50 van die naaste familielede en vriende bygewoon kon word, het meer as 800 mense van so ver as Amerika en Engeland na die gestroomde uitsending gekyk.
“Hy was ‘n omgee-mens wat enigiemand sou help waar hy kon. Ons gaan die woorde van hoop en liefde van God wat hy verkondig het, baie mis,” sê Andries.
Wyle pastoor Wimpie word oorleef deur sy vrou, Hester, seuns Keanu en Raynard, dogter Simone, sy ouers Dries en Rina Myburgh, broer Andries Myburgh en suster Erna Havenga.


*********************************************************************************************************************
