LifestyleNews

Boervrou Zandrie Burger stel haar eerste enkeslnit bekend

"Goeie ou dae" is ’n nostalgiese terugreis na die verlede; ’n ou plaasskuurdans wat herinneringe van ’n suiwer hemelruim en die prag van welige woestynplante oproep

Zandrie Byrger, ‘n boerenooi uit Clanwilliam, het pas haar eerste enkelsnit, Goeie ou dae, bekendgestel.

En met dié enkelsnit maak Zandrie haar toetrede tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en hopelik gaan dié snit net soos die Hantam-Karoo se skilpadvygies op luisteraars groei.

Goeie ou dae is ’n nostalgiese terugreis na die verlede; ’n ou plaasskuurdans wat herinneringe van ’n suiwer hemelruim en welige woestynplante oproep.  Onskuldiger dae voordat die Covid-19 en misdaad ons in ons huise ingedwing het.

Zandrie het aan die Augsburg Landbouskool in Clanwilliam gematrikuleer en omdat sy oor omvattende landboukennis beskik, het Goeie ou dae ook sonder ’n gesukkel uit haar pen gevloei.

Die liedjie handel oor die plaaslewe: Zandrie is in Calvinia in die Noord-Kaap gebore, maar boer nou saam met haar man met skape. 

“Ek het nog nooit in ’n stad gebly nie, nog altyd op ’n dorp, maar die plaaslewe is eintlik ’n eiesoortige lewe. Gedurende die vlak 5-grendeltydperk kon ons byvoorbeeld vrylik op die plaas rondbeweeg. Die inperking het geen invloed op ons dag-tot-dag lewens gehad nie.”

“As ek soggens op ons stoep sit en my koffie drink, luister na die voëls en uitkyk oor die berge, dan besef ek hoe bevoorreg ons is om nie elke dag in die verkeer te sit, om nie in aanraking te kom met die lelik daar buite nie en om waardering te hê vir die stilte rondom ons.”

Die plaaslewe pas haar net so eksieperfeksie soos ’n winterswoltrui. “Ek het vir ‘n ruk skoolgehou, maar ek het voor my seuntjie se geboorte ’n tuisbly-plaasma geword. Ek geniet dit om tyd saam met my kinders te spandeer; familietyd is baie spesiaal.”

Zandrie het ook ’n dogtertjie.

Sy het ook Goeie ou dae met die doel geskryf om herinneringe wat mense op hul eie manier na aan die hart lê, en nie noodwendig dit wat sy geskryf het nie, terug te bring.

“Elkeen verlang na iets anders, en ek wil hê elkeen wat hierna luister, moet nie net met ’n gevoel van hiemwee gelaat word nie, maar ook trots wees op wat hulle vandag bereik het. Ons paaie loop soos dit moet loop en ons moet dankbaar wees vir dit wat ons het.”

Dié enkelsnit neig in ’n volwasse kontemporêre rigting, maar Zandrie is versigtig om dié liedjie slegs in die volwasse kontomporêre genre te klassifiseer. “Ek sal graag wil hê dat dit byval by kinders en volwassenes moet vind.”

Hoewel Zandrie nie ’n onbekende naam in musiekkringe is nie – sy bespeel al die klavier sedert haar kindervingertjies die note kon vind, en het al aan vele sangkompetisies deelgeneem, maar sy glo dat die tyd nou eers reg was om die enkelsnit uit te reik.  

“Afrikaans is my hartstaal en ek wou nog altyd deel geword het van die Afrikaanse musiekbedryf. My droom – om ’n liedjie in my eie taal vry te stel – het uiteindelik waar geword.”

Zandrie beskryf haarself as ’n spontane mens wat maklik met mense oor die weg kom. “Ek neem soms baie impulsiewe besluite, maar gelukkig draai die besluite die meeste van die tyd positief uit. Om Goeie ou dae op te neem was ook een van dáárdie impulsiewe besluite, maar ek glo dat die liedjie luisteraars positief sal beïnvloed;  hulle sal help om weer met nuwe energie (en moed) die lewe aan te pak.”

Zandrie se jarelange stem- en musiekopleiding is ’n getuigskrif van Goeie ou dae. Die liriek en melodie is perfekte pasmaats en haar stem is so suiwer soos die Hantam-Karoo se lug.  Die lirieke is hartswoorde en enige luisteraar sal kan hoor dat die woorde nie net neergepen is nie, maar met passie en talent neerge-ink is.

Riaan Steyn van Traxtudio het die liedjie opgeneem.

Zandrie is ’n aanwins vir die musiekbedryf en daar gaan hopelik nog ’n hele paar liedjies uit haar pen verskyn.

Lees meer oor dié opkomende sangeres by https://www.facebook.com/profile.php?id=100008444613516

En op haar Facebook: https://www.facebook.com/zandrie.vandermerwe

 

********************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button