LifestyleNews

Jabes en pleegkinders kyk vorentoe na hartseer

Jabes bestaan uit vier pleeghuise: Kosmos-, Protea-, Frangipanie- en Sonneblomhuis, waar 29 kinders van verskeie ouderdomme in 'n liedevolle familie-omgewing versorg en opgevoed word

VANDERBILPARK. – Jabes Foundation, wat ‘n veilige tuiste aan kinders bied wat nie ‘n ander heenkome het nie, is vroeër vanjaar geruk deur die dood van die geliefde huismoeder, mev. Ronel Riekert. Die legendariese Ronel was 20 jaar by pleegsorg betrokke totdat sy op 25 Februarie vanjaar aan ‘n terminale siekte gesterf het.

Jabes bestaan uit vier pleeghuise: Kosmos-, Protea-, Frangipanie- en Sonneblomhuis, waar 29 kinders van verskeie ouderdomme in ‘n liedevolle familie-omgewing versorg en opgevoed word.

Wyle Ronel se man, Johan Riekert, sy broer Ben en skoonsuster Rina, sit Jabes se werk met groot ywer voort.

“Ons kan nie genoeg dankie sê vir almal se ondersteuning, op watter manier ookal, om ons te help sorg vir die kinders en ‘n verskil in hul lewens te maak nie. Dis wonderlike mense uit die gemeenskap wat dit vir ons moontlik maak om dié Godgegewe passie te kan uitleef. Covid het by dié tyd meeste van ons almal al op die een-of-ander manier geraak, maar deur die Genade kan ons nog aangaan en vashou aan Sy Hand,” sê Johan.

“Heelwat van ons gereelde donateurs moes ongelukkig onttrek weens die virus en inperking. Ons weet dat almal swaar trek maar ons vra regtig mooi dat individue en sakelui sal voortgaan om ons te help om te bly doen wat ons doen,” sê hy.

Wyle Ronel het altyd verwys na Jabes se “Bietjie”-teorie: Een mens kan nie alles doen nie, maar as elkeen net ‘n bietjie doen, maak dit ‘n groot verskil in kinders se lewens.

Johan nooi die gemeenskap uit om ‘n koppie koffie te kom drink en te sien wat die Jabes Foundation alles doen. Kontak hom gerus by 082 2544 611 of vir Rina Riekert by 072 520 1881.

Mense wat ‘n geldelike donasie wil maak, kan dit by die volgende rekening inbetaal: Jabes Foundation, Absa, tjekrekeningnommer: 407 856 3141, Vaal Mall tak, takkode: 632005. PBO-sertifikate sal op versoek uitgereik word.

Foto: Wyle Ronel Riekert saam met haar man, Johan, wat Jabes Foundation se wonderlike werk nou saam met hul skoonsuster, Rina Riekert, voortsit.

**********************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button