LifestyleNews

Inperking maak vuil uile van sommige Valies!

Dit lyk asof die inperking ook ‘n verandering in baie mense se higiëne-roetine teweeggebring het!

Die Covid-inperking het nie net ‘n groot verandering in die mensdom se werks- en sosiale lewe veroorsaak nie. Dit lyk asof dit ook ‘n verandering in baie mense se higiëne-roetine veroorsaak het.

Meningspeilings wat die afgelope tyd deur Europese en Amerikaanse publikasies gedoen is, toon dat al meer mense minder bad of stort omdat hulle nou van die huis af werk en nie meer daagliks vir die kantoor, kollegas of kliënte moet opdollie nie.

Die onthullings van verskeie buitelandse rolprent- en TV-sterre dat hulle nie meer so gereeld soos voorheen bad of stort nie, het die afgelope tyd ook tot warm debatte op sosiale media gelei. Twee van Hollywood se glinster-egpare, Kirsten Bell en Dax Shepard, is onder dié wat onlangs erken het dat hulle nie meer so nougeset op hulle en hul twee dogtertjies van 8 en 6 se daaglikse badroetine is nie. Hoewel hulle kritiek uit die “daaglikse bad”-kamp gekry het, was daar baie begrip van ander wat reken moderne mense “bad al hul natuurlike, beskermende olies af”.

In ‘n meningspeiling wat Vaalweekblad verlede week op Facebook gedoen het, blyk dit dat meeste plaaslike inwoners steeds gereeld bad of stort en dit as een van die min plesiertjies beskou wat mens nog in die grendeltyd kan geniet. Daar is egter ook Valies wat volgens “normale” standaarde nou vuil uile is!

Kleina Janse van Rensburg sê sy weet nie waar sommige mense die idee kry dat dit nie meer nodig is om gereeld te bad nie. “Ek ken ‘n paar in die Vaal. Hulle moet net in ag neem dat sommige van ons se reukorgane nog werk. Julle ruik soos dooie hondjies!” sê sy.

Baie lesers stem saam met Jo-anne Lottering dat hulle soggens nie lekker aan die gang kan kom voor hulle gebad het nie, en saans moeilik aan die slaap raak as hulle die dag nie weer met ‘n bad afsluit nie.

Ansie Venter sê sy duld geen “varkie-aand” in haar huis nie. “Pajamas word elke dag gewas en jou bas ook!”

Vir Nicky Jansen van Vuuren is daar niks lekkerder as om na ‘n lang dag in die bad te ontspan nie. “Soms met ‘n lekker yskoue bier as ek gelukkig is. Anders net relax en die water geniet… elke aand.”

Die inperking het ook geen effek op Fransie Dippenaar se persoonlike roetine nie. “Genade nee, ek bad nog steeds twee maal per dag.” Johanna Grobler sê haar gesin bad almal steeds een keer per dag. “Dis my alleen-bederftyd en alleen-gedagtetyd.”

Veronica McIntyre sê in haar huis word daar in die grendeltyd meer gestort en hande gewas as vantevore. “Ons verwissel ook meer dikwels van klere vir ingeval jy dalk in aanraking gekom het met ‘n besmette oppervlak.”

Harold Clarke meen met al die wateronderbrekings in die Vaaldriehoek is dit geen verrassing as mense minder higiënies is nie. “Die mense het opgegee om te bad,” reken hy. Conrad Scheepers stem saam: “Met al die water wat oral lek in die dorp en weke vat om reggemaak te word, kan ek dit goed glo dat mense minder bad.”

Paula Stols sê daar is geen rede om vuil te wees nie. “Al bad jy soos ‘n budgie in die wasbak met ‘n liter water, was jou man!

”Elize Benson sê om te kan bad is ‘n behoorlike uitdaging in hulle omgewing. “Ons kan nie gereeld bad nie want ons het tot ses dae aaneenlopend geen water by ons huise nie en dit is elke week se storie.”

Dit is egter nie net wateronderbrekings of lae waterdruk wat probleme veroorsaak nie. Marietjie Greyvensteyn meen as Valies minder bad, is dit waarskynlik weens die gereelde kragonderbrekings. Niemand hou mos van ‘n koue bad of stort in die winter nie. Daarby laat die gehalte van die water in die Vaaldriehoek soms ook veel te wense oor. “Die water in ons krane is some vuiler as die vuil op ons liggame,” sê Dirk Coetzee.

Jeandré Jean van Rooijen sê daar word gereeld in hulle huis gestort, maar meen mense wat baie depressief is, is geneig om selfs die kleinste take, soos persoonlike higiëne, te vermy. “Die inperkings en ekonomiese impak van Covid-19 het ‘n duidelike uitwerking gehad op die sielkundige gesondheid van die mensdom.”

 

Nog redes waarom sommige nou minder bad

 

Sommige lesers wat anoniem op WhatsApp aan Vaalweekblad se meningspeiling deelgeneem het, sê die vroue en meisies in hul huishoudings bad oor die algemeen nog net soveel soos voor die inperking, maar die manne het soms ‘n “bietjie oorreding” nodig.

“Ek jaag my man en seuns gereeld badkamer toe as hulle by my verbyloop en ek ‘n reukie begin kry,” sê ‘n Sasolburgse ma.

‘n Paar senior burgers het laat weet dat hulle gedurende die winter net so twee of drie keer per week deeglik bad en die res van die tyd net daagliks die noodsaaklike plekke was. “Ons oumense sweet mos nie meer soveel soos toe ons jonk was nie,” sê ‘n manlike pensioenaris van 76.

Nog ‘n leser laat weet dat hul gesin minder bad sedert die inperking begin het. “Ek dink dis omdat mens niks deur die dag doen nie. Jy beweeg nie regtig nie. En definitief oor die krag wat so opgegaan het. Ons bad elke tweede dag.”

Een gesin waarvan albei ouers hul werk verloor het en tans op hul pakketgeld oorleef, sê ‘n daaglikse bad is nou ‘n onbekostigbare luuksheid. “Ons skakel die geiser net vir so ‘n uur voor badtyd aan. Ek en my tienerdogter bad net vier keer per week en deel mekaar se badwater. Die ander dae was ons net deeglik met water wat ons in die ketel kook. Pa en kleinboet stort saam, dikwels sommer in koue water in die middae as die weer lekker warm is. “Ons was ons onderklere met die hand, sommer in die wasbak. Beddegoed word net een keer in twee weke in die wasmasjien gewas en dik truie, baadjies en jeans net een maal per maand of selfs minder,” sê die ma, wat tans die sente moet omdraai.

Jonathan van de Stadt som baie Vaaldriehoekers se huidige bestaan dalk die beste op: Hy sê sy higiëne-roetine het nie verswak nie, maar vandat hy van die huis af werk is hy minder netjies op homself. “Ek exfoliate en skeer nie so gereeld nie en die hare word meestal net gekam as ek moet uitgaan. Dis ‘n huiskantoor in pajamas-leefstyl want my werk vereis nie fisiese kontak nie. Dit voel onnodig om water en elektrisiteit te mors deur elke dag aan te trek en nêrens heen te gaan nie.”

Dit lyk darem asof ons Valies ondanks die uitdagings nog nie hul humorsin verloor het nie. André Cornelissen sê dit moet nou baie begin reën sodat hy gereeld kan stort. Anton Bertram sê die inperking beïnvloed glad nie sy badgewoontes nie. “Ek bad anyway net een keer in die somer en nie so baie in die winter nie!”Gerhard du Plessis verklaar openlik dat hy net op Saterdae bad. “Die res van die tyd stort ek!”

Sommige lesers sê hulle bad beslis minder wanneer die water in hul krane vuiler is as die vuil aan hul liggame.
Verskeie Hollywood-sterre, soos die egpaar Kristen Bell en Dax Shephard, het onlangs in die media erken dat hulle sedert die wêreldwye Covid-inperkings begin het, nie meer so nougeset oor hul gesin se daaglikse badroetine is nie.

*********************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button