Local newsNationalNewsNews

4-Jarige wil ook net speel en dans. Help haar asseblief.

Mialinke (4) wil soos enige ander kleuter rondhardloop en met haar maats speel. 'n Aangebore hartkondisie verhoed haar om dit te kan doen. 'n Derde hartoperasie kan haar lewe red en maak dit sy ook sal kan lekker speel sonder moeg word.

VANDERBIJLPARK. – Mialinke Niemand (4) is lief vir musiek en dans. Sy kan ‘n hokkiebal hard slaan en is ‘n trotse Springbok ondersteuner.

Ongelukkig kan sy nie lank speel of dans soos ander maats van haar ouderdom nie.

Sy word gou moeg en uitasem, kry pyn in haar bors en haar vel, lippe en naels raak blou weens ‘n gebrek aan suurstof.

Mialinde moes op 27 Aug inderhaas na ongevalle geneem word met borspyn. Foto: Verskaf deur Janita Niemand

Mialinke is gebore met Hipoplastiese regterhartsindroom (HRHS).

HRHS is ‘n reeks aangebore hartafwykings aan die regterkant waarin die regterkantse strukture (tricuspidale klep, regterventrikel en/of pulmonale klep) onderontwikkel is of nie gevorm word nie.

In Mialinke se geval is die twee regter hartkamers onderontwikkel.

Haar ma, Janita, sê medici het haar destyds aangeraai om die swangerskap te termineer.

Niemand kon help nie, totdat hulle by Dr JR Harrisberg, ‘n kardioloog van Sunninghill uitgekom het.

Onder sy bekwame hande het Mialinke haar eerste hartoperasie op 9 dae gehad en ‘n tweede een toe sy 13 maande oud was.

“Ons is toe al ingelig dat sy ‘n derde operasie sal moet ondergaan. Dit was geskeduleer vir Maart 2021, maar my man het onverwags sy werk verloor in 2020.

“Teen Augustus verlede jaar moes ons die medies kanselleer en is die operasie uitgestel”, vertel Janita.

“Ons was nie bekommerd nie, want Mialinke het baie goed aangegaan.”

Intussen het haar man ook weer werk gekry en is daar solank vir Mialinke en Janita medies uitgeneem.

Ongelukkig is daar nou ‘n wagtydperk vir ‘n jaar en weier die medies om enigsins die reëls te buig.

Dit sou nie so ‘n groot probleem gewees het nie, maar Mialinke se toestand het die afgelope drie maande skielik versleg.

Die gesin het groot geskrik toe Mialinke op 27 Augustus erge hart pyn en kortasem ervaar het nadat sy lekker gespeel het.

Hulle moes haar inderhaas na ongevalle neem waar die dokter ‘n EKG gedoen het.

Op daardie stadium was haar suurstofvlak maar tussen 79% en 84%.

“Ons het ‘n afspraak by haar kardioloog, Dr Harrisberg gekry vir 15 September en kon gelukkig die R5 500 konsultasiefooi bymekaarmaak.”

Hy het egter reeds gesê dat hy ‘n hartkateterisering sal moet doen voordat die derde operasie kan plaasvind.

Die prosedure word onder narkose gedoen en die koste vir die gebruik van die hospitaal en teater beloop R350 000.

Dit sluit nie die koste van die chirurg, narkotiseur, medikasie ens. in nie.

“Ons sal na die 15de ‘n kwotasie te kry van die totale onkoste”, het ‘n bekommerde Janita gesê.

Die Niemand-egpaar is in ‘n baie benarde posisie.

Wag hulle tot Maart wanneer die medies inskop is dit dalk te laat vir klein Mialinke.

Daarom vra hulle vir enige organisasie, individu of besigheid om asseblief te help.

“Mialinke is ‘n tawwe dogtertjie. Niks kry haar onder nie. Die kardioloog het gesê na die derde hartoperasie behoort sy ook aan sport te kan deelneem.

“Sy sal dalk nooit die 100 m kan afblits nie, maar sy sal wel soos haar maats kan speel en deelneem.

“Sy wil graag kleuterskool toe gaan, maar ons kan dit glad nie waag alvorens sy nie heeltemal van die derde operasie herstel het nie” vertel haar ma.

Enige hulp sal waardeer  word. Die bankrekeningnommer en alle ander inligting is beskikbaar op die Facebookblad: https://www.facebook.com/mialinkeniemand

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button