Hulde aan gesneuwelde Suid-Afrikaanse soldate gebring
Die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV) bring elke jaar in September hulde aan soldate wat hul lewens tydens oorloë en veldslae verloor het.
VEREENIGING. – As deel van die jaarlikse projek genaamd “White Dove” word daar elke jaar ’n sermonie gehou wat ’n kranslegging insluit.
Volgens Okkie Jooste, voorsitter van die SAWV se Kiewiet-tak in Vereeniging, word daar vanjaar so ’n geleentheid beplan vir Sondag 19 September.
Die geleentheid sal by die monument Vredesmonument by Lesliestraat in Vereeniging se middestad gehou word.
Kapelane sal die dag se verrigtinge met ’n kort diens open voordat proteas neergelê sal word ter nagedagtenis aan die soldate wat hul lewens verloor het.
Na die tyd sal ’n worsie gebraai word en sosiaal verkeer word.
Die SAWV wil graag die publiek by die projek betrek en het ’n beroep op familie en naasbestaandes van soldate wat hul lewens in oorloë veloor het om die dag saam met hulle te deel.
As jy weet van iemand wat ’n familielid in ’n oorlog verloor het skakel gerus vir Okkie Jooste by 071 478 8816.

