News

Hartelose swendelaars eis geld vir verlore honde

“Ons het die nag nog tot na 03:00 per WhatsApp gekommunikeer. Hy het gevra dat ek nie sy identiteit en selnommer bekend moes maak nie.”

Dit blyk dat gevoellose swendelaars deesdae probeer munt slaan uit hartseer eienaars se soektog na hul vermiste diere. Desperate honde-eienaars wat op Facebook of WhatsApp-groepe rapporteer dat hul diere weg is, word dan deur die swendelaars gekontak, wat voorgee dat hulle weet waar die hond is. Hulle maak dit dan duidelik dat verdere inligting eers verskaf sal word nadat ‘n fooi aan hulle betaal is.

Belinda-Laine Noortman, ‘n Vaaldriehoekse diereliefhebber wat vermiste honde help soek en optelhonde versorg, sê sy is bewus van ‘n hele paar voorvalle waar diereliefhebbers op dié manier afgepers is. Charlotte du Preez is een van die hondeliefhebbers wat deur swendelaars geteiken is nadat haar hondjie, Seun, op Dinsdag, 24 Augustus uit ‘n erf in die omgewing van Rissikstraat, Meyerton, verdwyn het. Toe sy die oggend werk toe is, was hy nog saam met haar twee ander honde in die erf. Toe sy die middag terugkom, was daar geen spoor van Seun nie.

Die oulike Jack Russel- en Pekingese kruising was al vyf jaar deel van Charlotte se lewe en het elke nag styf teen haar bors geslaap. Sy sê daar is geen manier dat hy self uit die erf sou kon kom nie. Nadat sy op Facebook gerapporteer het dat hy weg is, is sy laat die volgende aand per WhatsApp deur ‘n man gekontak wat voorgegee het dat sy huishulp gesien het hoe die hondjie uit haar erf gesteel word. Seun was glo by ‘n vrou wat beplan het om hom vir haar skoondogter buite die Vaaldriehoek te gee. Die huishulp sou glo presies kon sê waar Seun is, maar Charlotte moes dadelik R300 betaal. Sy het gesê dat sy net R100 kontant by haar gehad het en die res later sou betaal, en het afgespreek om die man by ‘n nabygeleë vulstasie in Meyerton te ontmoet. Hy het egter nie opgedaag nie.

“Ons het die nag nog tot na 03:00 per WhatsApp gekommunikeer. Hy het gevra dat ek nie sy identiteit en selnommer bekend moes maak nie.”

Nadat Charlotte besef het dat sy amper met ‘n slap riem gevang is en die voorval op Facebook gerapporteer het, het die man haar ‘n paar dae later gekontak met die woedende boodskap dat sy nou nooit weer haar hond sal sien nie. Sy het intussen kennisgewings en foto’s van Seun op Facebook, WhatsApp en by talle winkels, veeartse en die DBV gaan opsit, maar dit lyk asof hy soos ‘n groot speld verdwyn het. “My hart breek en ek sukkel om te slaap. As iemand Seun dalk doodgery het, sal ek dit so waardeer as hulle my net kontak en daarvan sê. Ek sal regtig nie kwaad wees nie. Ek wil net afsluiting kry want ek is so bekommerd en mis my baba so baie,” sê sy.

* ‘n Vanderbijlparkse inwoner, Beatrice Jonck, het ‘n feitlik identiese ervaring gehad nadat haar Jack Russel, Bolt, onlangs uit hul erf in Becqueralstraat in CW2, verdwyn het.

“Nadat ek op Facebook gerapporteer het dat Bolt weg is, het ‘n man met ‘n Indiese aksent my op WhatsApp gekontak en gesê iemand het hom vertel dat daar ‘n wit ou is wat hondjies in erwe nader roep en hulle dan steel om te verkoop. Hy het beweer dat sy huishulp vir Bolt by ‘n sekere Karin gesien het, wat beplan het om hom die volgende dag as ‘n geskenk vir haar dogter in Midrand te gee. Die man en sy huishulp sou meer inligting vir my gee sodra ek ‘n bedrag geld aan hulle betaal het. Ek het gevra om hom by die polisiestasie te ontmoet om die geld vir hom te gee, maar hy wou skielik nie meer kom nie. Hy het toe beweer dat Bolt ongelukkig klaar weggegee is en nie meer in die Vaaldriehoek is nie,” sê Beatrice.

Bolt is ‘n wit en bruin Jack Russell en het ‘n krul in sy stert. Vaalweekblad verneem dat nóg ‘n vrou R1 000 kwyt is nadat sy geld per “pay-pocket” aan ‘n swendelaar oorgedra het. Hy het daarna sy foon afgeskakel en kon nie weer bereik word nie. Enigiemand wat die vermiste hondjies gewaar of weet wat van hulle geword het, kan Vaalweekblad by 083 246 0523 kontak. Seun, ‘n Jack Russel- en Pekingese kruising wat in Meyerton weggeraak het.

IN HIERDIE STADIUM WORD AFFGELEI DAT DIE AFPERSER GLAD NIE DIE HONDJIES GESIEN HET OF BY HOM HET NIE. HY KRY BLOOT DIE HONDE-EIENAARS SE NAME EN KONTAKDETAILS OP WHATSAPP-GROEPE OF FACEBOOK. ALMAL MOET ASSEBLIEF DUS STEEDS RONDKYK WANT DIE HONDJIES IS MISKIEN VERDWAALD OF BY IEMAND WAT NIE WEET WIE DIE WARE EIENAARS IS NIE. VAALWEEKBLAD HOU STYF DUIMVAS DAT SEUN EN BOLT EN ALLE ANDER VERMISTE HONDE GOU GEVIND GAAN WORD. ‘n BELONING WORD AANGEBIED AAN DIE PERSOON/E WAT DIE HONDJIES TERUGBESORG. DAAR GAAN GEEN VRAE WEES NIE, NET OPREGTE BLYDSKAP!

Gelukkiger dae voordat Seun verdwyn het en nog styf teen ounooi Charoltte du Preez se lyf kon slaap.

Foto onder: Charlotte se hondjie, Seun, wat in Meyerton verdwyn het.

BO: Charlotte se hondjie, Seun, wat in Meyerton verdwyn het.

Foto onder: Beatrice se hondjie, BOLT, wat in Vanderbijlpark weggeraak het.

Bolt, die Jack Russel wat in Vanderbijlpark verdwyn het.
‘n Deel van die Whatsapp-kommunikasie tussen die afperser en een van die honde-eienaars

 

***************************************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button