Lumie-land se mure “praat”
Die eerste fase van Lumiére Primêr se Talking Walls projek is afgehandel en die resultate is iets om te aanskou.
VAALPARK.- Lumiére Primêr se grondslagfase het onlangs ‘n gedaanteverwisseling ondergaan.
Nadat opdrag van die Departement van Basiese Onderwys ontvang is om die skool se mure bietjie op te helder, het die skool die Talking Walls projek geloods.
Met Lèandri de Beer aan die stuur van sake het dinge gou in plek val.
Die leerlinge se ouers is gevra vir 2 liter koeldrankbottels (wat nog as potplante gaan dien), leë roomysbakke, verf en kwaste.

Uiteindelik was alles beplan en aangekoop. Die teken en verfwerk het op 17 Augustus na skool begin.
Die kleuters van Lumie-land Kleuterskool en die grondslagfase leerlinge was baie verras en verbaas toe hulle sien hul juffrouens gaan self die teken en verfwerk doen.
Selfs die skoolhoof, Lihan Kriel, het meegedoen.
Elaine Nel het in telefoniese onderhoud gesê die doel van die prentjies is nie net om die skool op te helder nie, maar ook om die leerders se aandag te trek en hulle speel-speel te leer.
So is daar byvoorbeeld prente teen die muur geverf wat die seisoene, verskillende vorms en kleure uitbeeld.
Onder dit is daar swartborde aangebring, waar die kinders dan die verskillende prentjies kan oorteken.
Dit het die span onderwysers twee middae geneem, maar al hul harde werk was die moeite werd.
Die kinders is gaande oor die kleurvolle mure en stoep waar hulle interessante paadjies kan volg en oor blokke kan spring en tel.
“Ons gaan die Talking Walls projek na die res van die skool ook uitbrei. By die hoër grade sal ons net ander tipe prente verf soos bv. die basiese wiskunde tekens van plus, minus, maal en deel”, het Elaine gesê.

