Grusame wreedheid word alledaags in eens netjiese groenstroke
Ontstellende voorvalle van dieremishandeling en -skending word in Sasolburg waargeneem
WAARSKUWING: DIE INHOUD VAN DIE BERIG KAN DIERELIEFHEBBERS EN SENSITIEWE LESERS ONTSTEL
SASOLBURG. – “Ons sien toenemend ontstellende voorvalle van dieremishandeling. In baie gevalle word diere wat só doodgemaak is, se oorskot in die dorp se groenstroke gelos. Almal moet bedag wees daarop dat hier wrede mense tussen ons rondloop.” Só sê dr. Letitia Koen-Swartz, ‘n bekende veearts van die dorp.
Die mees onlangse voorval van skokkende wreedheid het einde Augustus plaasgevind, nadat dr. Hein Kruger van Totiusstraat, op die Sasolburg Uitbreiding 23 WhatsApp-groep gerapporteer het dat hul gesin se geliefde kat, Felix, vermis word. Drie dae later het hy ‘n beloning aangebied vir Felix, wat ook in gedrukte vorm in posbusse in hul omgewing geplaas is. Later het hy die hartseer inskrywing gemaak dat mense nie meer na Felix hoef te soek nie. Hy is dood aangetref bo-op ‘n massiewe hoop takke en bourommel wat onlangs in die groenstrook tussen Totius- en Van Wouwstraat gestort is.
“Toe ek Felix vyf dae nà sy verdwyning op die takke in die groenstrook vind, was ek verbaas dat daar net ‘n bietjie rigor mortis in sy ore en drie pote was. Sy een hele agterbeen en stert was afgesny. Die ontblote vleisdele was nog vars en sy oorskot was nog warm toe hy gevind is.
“Felix was ‘n gesteriliseerde huiskat wat bykans elke nag binnenshuis geslaap het en nooit ver van ons huis gegaan het nie, behalwe om soms muise in die groenstrook agter ons erf te gaan jag,” sê dr. Kruger. Die muisbevolking het die afgelope tyd toegeneem soos wat die hope rommel, dooie plantmateriaal en plantegroei in die groenstrook meer geword het.
Felix is nie die enigste kat wat die afgelope tyd in dié omgewing dood gevind is nie. Dr. Kruger sê dat hy onlangs ook drie ander goed versorgde dooie katte in die groenstrook naby die NG-kerk Fonteine gevind en begrawe het. Van dié katte was moontlik vergiftig.
Die Krugers en ander besorgde inwoners hou gereeld die groenstrook in hul gebied so goed as moontlik skoon om ‘n brandgevaar te voorkom en te keer dat opgehoopte rommel ‘n teelplek vir plae en ‘n skuilplek vir misdadigers word. Ongelukkig deel nie almal in die omgewing dié standpunt nie.
Volgens mnr. Jacques Barnard, DA-koukusvoorsitter in die Metsimaholo-munisipaliteit, is die wetteloosheid in Sasolburg se groenstroke reeds lankal ‘n bron van kommer.
“Die DA het al verskeie vergaderings met die burgemeester en haar komitee hieroor gehou, maar niks het daarvan gekom nie. Ongelukkig het die koalisieregering in Metsimaholo heeltemal platgeval en selfs die mees basiese dienste word net met moeite gelewer. Sommige inwoners stort onwettig rommel en tuinvullis in die groenstroke en in sekere gevalle is daar ook bende-aktiwiteite, maar omdat die munisipaliteit se bywette-afdeling nie hul werk doen nie, word sulke oortreders nie tot verantwoording geroep nie,” sê Barnard.
Hy het die storting tussen Totius- en Van Wouwstraat nietemin by die Metsimaholo-munisipaliteit aangemeld, en gevra dat die oortreder beboet word.
Van die inwoners het hom al versoek om die groenstroke te laat toemaak, maar hy sê daar is soveel wetgewing rondom sulke openbare terreine dat dit nie maklik sal kan gebeur nie.
“Ons is tans op onsself en AfriForum aangewese om die groenstroke in ons woonbuurte in stand te hou. Die munisipaliteit het al gehelp met sulke skoonmaak-aksies, maar dit val elke keer plat. Vrywilligers doen nou die werk en inwoners samel geld in vir die wegry van rommel. Hoewel ‘n mens dankbaar is daaroor, is dit onaanvaarbaar dat inwoners ekstra tyd en geld moet insit om die groenstroke netjies te hou want dit is die munisipaliteit se plig en verantwoordelikheid,” sê hy.
Berig 2: Sommige beserings te skrikwekkend om te beskryf, sê veearts
SASOLBURG. – Die martelbeserings wat plaaslike veeartse soms aan veral katte sien, is so skrikwekkend dat sy dit nie eers wil beskryf nie, sê plaaslike veearts dr. Letitia Koen-Swartz.
“’ n Mens wil nie eers dink aan die verskriklike lyding wat hierdie diere moes deurgaan nie,” sê sy.
Die vergiftiging van katte was nog altyd ‘n groot probleem in Sasolburg en baie katte word steeds só doodgemaak, veral deur mense wat nie van katte hou nie of deur voëleienaars wat van lastige katte ontslae wil raak, sê sy. Sommige katte word selfs in hul eie erwe vergiftig. Daar is egter ook ‘n kommerwekkende toename in meer bloeddorstige, fisiese wreedheid teenoor katte en ander diere.
“In een buurt het ons twee gevalle in twee weke gesien waar katte met ‘n windbuks geskiet is. In albei gevalle is een van hul bene morsaf geskiet. ‘n Windbukskoeël kan ‘n kat se been ook so laat versplinter dat ons dit moet amputeer,” sê sy.
Selfs jong skoolkinders maak hulle aan dieremishandeling skuldig. In een skokkende geval het ‘n onderwyseres in 2019 afgekom op ‘n groep kinders wat besig was om die vel van ‘n kat se voorbeen letterlik af te trek. Nadat sy die kinders verwilder het, het sy die kat gered en na die veeartspraktyk gebring. Daar was so baie vel weg dat die veeartse moes besluit of die been geamputeer moes word, en of hulle dit kon probeer red.
Die erg beseerde kat, wat later Rambo gedoop is, se been is toe danksy intensiewe behandeling gered, maar dit het die vel byna ‘n jaar geneem om terug te groei. Rambo se oorspronklike eienaars kon nooit opgespoor word nie, maar hy was een van die gelukkige katte vir wie daar ‘n nuwe, liefdevolle huis gevind kon word.
Dr. Koen-Swartz sê sy weet uit ervaring dat baie voorvalle van dieremarteling in die dorp se groenstroke voorkom. En dit is nie net katte en honde wat deurloop nie. Selfs uile is soms slagoffers van uiterste wreedheid.
“Sasolburg se uilbevolking word gereeld geteiken omdat daar baie bygelowe oor uile in sommige kulture is. Ons is onlangs gekontak toe kinders besig was om uile met klippe te gooi. Dit is een van die onmenslikste goed om ‘n dier of voël wat niemand skade doen nie en homself nie kan verdedig nie, so dood te maak. Dieremishandeling is dieremishandeling, ongeag wat jou kultuur of tradisie is. Ek vermoed daar is baie meer gevalle van dieremarteling as waarvan ons weet. Dit gebeur baie meer as wat ons besef. Ek weet nie hoe dit gestop kan word nie maar die publiek moet meer bedag wees op dié soort goed,” sê sy.



Dr. Letitia Koen-Swartz, ‘ n bekende veearts van Sasolburg, met Rambo, wat na meer as ‘n jaar eers herstel het van die martelbeserings wat hy in 2019 opgedoen het.
********************************************************************************************
