Gereelde kragonderbrekings lê alweer buurt lam
Inwoners van Drie Riviere kla dat kragonderbrekings wat gereeld die buurt lam lê sleg is vir besigheid.
VEREENIGING. – Die buurt gaan die afgelope paar dae erg gebuk onder gereelde kragonderbrekings en inwoners dring nou aan op antwoorde oor waarom dit keer op keer gebeur.
Op die oggend van Saterdag 4 September 2021 is die buurt vir ure lank sonder krag gelaat toe kabeldiewe ’n stuk kabel van ongeveer 20 meter naby die TR1 substasie in Drie Riviere gesteel het.

Sedertdien was daar al verskeie kragonderbreking wat gewoonlik in die vroeë oggendure ontstaan en dikwels tot in die middag duur.
Op Vrydag 10 September het die krag ook in die vroeë oggendure in groot gedeeltes van Drie Riviere afgegaan en is die kragtoevoer eers laat in die oggend herstel.
Op Maandag 13 September het die krag weer in die vroeë oggendure afgegaan en is die kragtoevoer, soos met die vorige keer eers teen die middag se kant herstel.
Volgens Shayne Welman, ’n inwoner en lid van die wykskomitee vir Drie Riviere, ervaar inwoners nou al vir die afgelope 10 dae aanhoudende kragonderbrekings sonder dat die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit bevredigende antwoorde kan verskaf oor presies waarom dit gebeur.
Gerugte het Maandagoggend op sosiale media die rondte gedoen dat daar nie diesel is sodat werkers met die herstelwerk kan begin nie.
Volgens Dalene Venter, raadslid vir Drie Riviere kan inwoners nie langer so aangaan nie. Sy het Maandag antwoorde geëis.

Makhosonke Sangweni, bestuurder van kommunikasie by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, het by navraag aan Vaalweekblad gesê die munisipaliteit is deeglik bewus van sporadiese kragonderbrekings wat in Drie Riviere en veral Drie Riviere Oos ervaar word.

“Sedert die ontstaan van die probleem het tegnici op verskeie geleenthede probeer om kragtoevoer na geaffekteerde dele te herstel maar die krag skop elke keer uit.
“Vandag (Maandag 13 September 2021) het die span kragtoevoer na Drie Riviere-Oos met behulp van ’n alternatiewe toevoer herstel.
“Terwyl ons na ’n permanente oplossing vir die probleem soek sal die USCO-woonstelle en pompstasie afgeskakel bly tot die kabel ten volle herstel is,” het Sangweni verduidelik.
‘n Groep ontstoke inwoners van die buurt het verlede jaar besige ingangspaaie na die buurt versper toe die krag vir ongeveer drie weke lank af was.
Talle inwoners van Drie Riviere het vroeër vanjaar in ‘n menigsopname aangedui dat hulle ten gunste daarvan is om van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit weg te breek en saam met die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit te smelt.
