Minder as 20% van Sedibengers tot dusver ingeënt
Die Gautengse gesondheidsdepartement het die afgelope paar weke sy inentingsveldtog in die provinsie verskerp en een van die gebiede wat veral geteiken word is die Sedibeng-distrik.
SEDIBENG. – Volgens die Gautengse LUR vir gesondheid Nomathemba Mokgethi was mense van Sedibeng tot dusver nog huiwering om hulself te laat inent. Van die bykans miljoen inwoners (957 528 volgens die laaste sensus in 2016) is daar volgens Mokgethi nog net 167 000 mense ten volle ingeënt.
Sy het in ’n televisieonderhoud gesê dat baie mense glo hulle kry die “merk van die dier” as hulle ingeënt word en dat inentings “van die duiwel af” is.
Dit volg nadat beamptes van die Gautengse gesondheidsdepartement en ander staatsdepartemente onlangs deur tot deur besoeke gedoen het om mense aan te moedig om vir hul inentings te gaan.

Volgens Mogethi het hulle probeer uitvind waarom daar so min inwoners van Sedibeng gaan om ingeënt te word.
Volgens Mokgethi het die department van gesondheid nou hande met kerke in die gebied gevat in ’n poging om meer mense te laat inent.
Mokgethi het mense verseker dat die entstowwe wat gebruik word om Suid-Afrikaners mee in te ent veilig is en mense aangemoedig om dit te neem.
Die gesondheidsdepartement het die afgelope paar weke ook verskeie opspring inentingstasies (“pop-up vaccination sites”) in die distrik by plekke soos taxi-staanplekke en winkelsentrums opgerig in ’n poging om meer mense in te ent.
Die president het Sondagaand (12 September 2021) tydens ’n televisietoespraak waartydens hy inperkingsmaatreëls na vlak 2 toe verslap het gesê hoe meer mense voor Desember ingeënt word, hoe minder is die waarskynlikheid dat Suid-Afrika ’n verwoestende vierde golf gedurende die vakansietyd aan die einde van die jaar sal ervaar.
“Dit is die grootste rede waarom dié van ons wat nog nie ingeënt is nie na hul naaste plek van inenting moet gaan om die inenting te ontvang,” het Ramaphosa gesê.

Ramaphosa het in sy toespraak verwys na syfers wat deur die Wes-Kaapse department van gesondheid saamgestel is oor mense bo 60 wat Covid-19 opgedoen het.
“Slegs 30 van die 729 mense bo die ouderdom van 60 wat in die hospitaal opgeneem is (tussen 14 Augustus en 20 Augustus) is ingeënt. Die ander 699 is mense wat nie ingeënt is nie. En van die 292 mense bo die ouderdom van 60 wat gedurende daai week weens Covid-19 dood is, was 287 nie ingeënt nie. Slegs vyf van hulle was ingeënt.
“Met ander woorde: 96% van die mense bo 60 wat in dié provinsie in die hospitaal opgeneem is en meer as 98% van die mense bo 60 wat (aan Covid-19) dood is, was nie ingeënt nie. “Ons sien ’n soortgelyke patroon in hospitale regoor die land,” sê Ramaphosa.
