LifestyleNews

Jennifer se nuwe enkelsnit, As Ek Huil, getuig van verlies in grendeltyd

“Ek het die afgelope tyd baie gestoei met die gedagte van verlies. Verlies weens die dood, verlies aan die lewe, verlies aan inkomste, verlies aan werk..." - Jennifer

 

Die sangeres Jennifer Zamudio, wat ‘n groot aanghang in die Vaaldriehoek het, het gedurende die pandemie en grendeltyd beslis nie op haar louere gerus nie. Sy het twee uiters suksesvolle duette saam met Henri Alant (Daar’s ‘n rede) en saam met Riaan Grobler (Liefdeshartaanval) vrygestel.
Getrou aan Jennifer se dryfkrag, het sy almal in Oktober 2020 met haar allemintige treffer-enkelsnit, Dalk, verras. Baie musiekkenners beskou dit as een van haar grootste treffers nog. Dalk het gesorg vir ses nommer 1-plekke op verskeie radiostasies, en selfs ‘n nuwe rekord opgestel vir die langste nommer 1-posisie op van die stasies se trefferparades.
Toe dit tyd geword vir ‘n nuwe enkelsnit vir 2021, het Jennifer gewonder hoe sy op haar vorige suksesvolle enkelsnit kan verbeter. Die antwoord het onwillekeurig gekom met al die ongewone gebeurtenisse gedurende die afgelope jaar en Jennifer het self begin skryf aan As ek huil. En om die liedjie perfek af te rond, vra sy toe vir Tertius BC Pretorius om die liedjie saam met haar te skryf. Tertius was ook die skrywer van Altyd Myne en Dalk. Met so ‘n wenkombinasie kan die nuwe enkelsnit nie anders as om ook groot trefferpotensiaal te hê nie.
As ek huil is ‘n kragtige ballade met ‘n diep hartseer ondertoon. Dit bring ook weer eens die warmte in Jennifer se stem uit, wat eie is aan haar unieke sangstyl. Die liedjie beloof om beslis die hartsnare te roer en luisteraars op ‘n emosionele reis te neem. Dit gaan diep aan jou binneste raak en jou laat dink aan jou eie verliese die afgelope tyd. So trek maar die sneesdoekies nader as jy daarna en laat jouself toe om uitting te gee aan al daardie opgekropte emosies.
Jennifer vertel self: “Ek het die afgelope tyd baie gestoei met die gedagte van verlies. Verlies weens die dood, verlies aan die lewe, verlies aan inkomste, verlies aan werk… So kan die lys aangaan en aangaan. Die kort en die lank is dat enige verlies altyd uitloop op hartseer, en hartseer loop uit op trane. Mense se seer het by my bly spook. Iemand het dit eendag so mooi gestel deur te sê dat wanneer ‘n mens huil, word die vensters van jou hart weer skoongewas. Met As ek huil het ek probeer om die emosie van verlies vas te vang in my musiek, in die hoop dat dit kan help om jou hartsvensters skoon te was. Tertius Pretorius het ingestem om saam met my te skryf en sy bydrae was ‘n ongetwyfelde sielstoevoeging. Hy het net ‘n manier van skryf waaroor ek mal is en ek glo dat ons iewers in die toekoms weer sal saamskryf.”
As ek huil is beskikbaar op alle digitale platforms – gaan luister gerus!

* Vaalweekblad het vroeër die week verkeerdelik berig dat Jennifer op 21 September in die Vaaldriehoek kom optree. Dit is ongelukkig nie so nie – ons sal nog ‘n tydjie moet wag voordat dié gewilde sangeres weer ons Vaal-streek aan die brand gaan kom sing. Vaalweekblad en Ster sal haar bewonderaars betyds laat weet wanneer sy weer kom optree.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button