LifestyleNews

Na lang wag gaan Vernon en sy ‘Snowflake’ nou voor die kansel staan!

Vernon Muso, wat deesdae veral bekend is as Country-sanger, is een van die min wat steeds suksesvol voortgaan om sy lewenstaak uit te leef - om die wêreld met musiek te vul

VANDERBIJLPARK. – Die Covid-inperking kniehalter almal van ons, maar min mense word so erg geraak soos Suid-Afrika se uitvoerende kunstenaars, wie se optredes deesdae tot klein groepe gaste of virtuele konserte beperk is.

Vernon Muso, wat deesdae veral bekend is as Country-sanger, is een van die min wat steeds suksesvol voortgaan om sy lewenstaak – om die wêreld met musiek te vul – uitleef. Vernon het die afgelope jare ‘n stewige bewonderaarsbasis in die Vaaldriehoek en aan die Rand opgebou en tree steeds gereeld op, hoewel voor keiner gehore.

Nóg goeie nuus uit die Muso-kamp is dat Vernon en sy groot liefde, Elzaan van Zyl, in Desember in die huwelik tree. Net die regte manier om vir Covid te wys dat niks die mag van die liefde kan stuit nie!

Vernon is ‘n Kapenaar van geboorte, wat in 2012 na Vanderbijlpark verhuis het. Sy liefde vir musiek en optrede kom al ‘n ver pad.

“Ek het op 12-jarige ouderdom begin kitaarspeel en sing. Solank as wat ek kan onthou, is ek lief vir musiek, en speel ook klavier. My musiekfondasie lê ferm in die Jazz, RnB en Soul-genres, maar nadat ek wyle Lance James in 2012 ontmoet het, het die Country musiek-gogga my behoorlik gebyt,” sê Vernon.

Hy is serdertdien met verskeie gesogte Country-toekennings vereer, soos die SA Country Music Melody Awards se Nuweling van die Jaar (2016), Beste aanbieding van ‘n bestaande treffer (2017), Uitsonderlike bydrae tot Country-musiek (2018) en Beste kontemporêre kunstenaar in die mansafdeling (2019)

Dit is duidelik dat musiekliefhebbers gaande is oor dié man met sy warm persoonlikheid en groot hart.

Vernon se vriende beskryf hom as ‘n gemaklike mens wat met letterlik almal oor die weg kom; ‘n absolute mense-mens wat nie sal skroom om sy laaste sente uit te grawe om ander te help wat swaarkry nie.

“Ek beskou myself as ‘n praktiese mens wat nie bang is om groot te droom nie. Die Engelse gesegde sê mos: ”If you can dream it, you can do it”.

“Die lockdown het die afgelope jaar en ‘n half enorme druk op alle huishoudings en kunstenaars geplaas en ek was gelukkig om Elzaan, ‘n frontline werker, as rugsteun in hierdie moeilike tyd te hê. So, ek kon my besig hou met die produksie van nuwe musiek,” sê Vernon.

Hy en Elzaan het in 2016 by ‘n optrede ontmoet waar hy, Juan Boucher en Nicolis Louw saam opgetree het. Sedertdien is die paartjie onafskeidbaar.

“Elzaan is my ruggraat en my ALLES,” sê Vernon. “Ons het in 2017 verloof geraak en net toe planne om te trou begin rigting kry, het Covid ‘n stokkie daarvoor kom steek. Maar op 4 Desember maak ek hierdie pragtige wese myne vir altyd…. ek kan só nie wag nie,” sê hy.

Elzaan, op haar beurt, sê Vernon het die mooiste persoonlikheid en die mooiste hart. “Dit was vir my maklik om halsoorkop verlief te raak. Ek het nog altyd gesê ons is ‘n POWER COUPLE. Ons het ons nooit gesteur aan mense wat van alle kante af vir ons kyke gee nie. Almal ken my nou al as ‘Snowflake’. Ons wenresep is om God eerste in ons verhouding te stel. Ons grootste pluspunt is verseker die feit dat ons reg van die begin af geskille kalm kon uitwerk en steeds nie toelaat dat klein dingetjies ons van stryk bring nie,” sê Elzaan. Sy voeg by dat sy nie kan wag vir die troue nie en al baie lank daarna uitsien.

Vernon het die Vaaldriehoek se mense in die afgelope nege jaar ook met ‘n passie liefgekry en probeer sover moontlik by hulle betrokke bly. “Veral in hierdie tyd waar Covid almal se alledaagse lewens in ‘n oorlewingstryd omskep het. Ek glo dat ‘n mens almal rondom jou moet behandel soos wat jy behandel wil wees. So, as ek met ons mense glimlag, kan hulle weet daai glimlag is opreg.

“Ek het die droom om musiek aan ons Vaal-gemeenskappe te bring as ‘n manier om iets agter te laat aan ons jeug én ons grootmense. Om dié rede het ek met die begaafde pianis, Willie Bosschieter, hande gevat en ‘n musiekskool by Music Land in Vanderbijlpark begin, waar ons nou almal leer sing en kitaar, baskitaar, klavier en blaasinstrumente speel. So, hou die pers dop vir nog besonderhede!”

En sien Vernon homself en sy gesin nog vir baie jare in die Vaal?

“Ek is nou gewortel in die Vaaldriehoek en sal hier woon totdat ek my kop eendag neerlê, want ten spyte van ons verskille en geskille is die Vaal-gemeenskap ‘n close knit een as dit kom dat eenheid nodig is. Dít het hulle my nou weer bewys na hierdie onlangse vlaag van plundering en geweld.

So, my Valies…. I love you guys to bits! Dankie dat julle my musiek geniet!”

Vernon Muso saam met wyle Lance James
Vernon en Elzaan – Fotograaf: Chanté Ferguson.

*******************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button