‘Lisensie-amptenaar’ kul 9 mense binne minute uit duisende rand
Wees op die uitkyk vir dié swendelaars!

VANDERBIJLPARK. – Een of meer swendelaars het verlede Vrydag minstens nege mense wat voertuiglisensies wou hernu, in ‘n kwessie van minute uit duisende rand gekul. Dít is net die gevalle waarvan Vaalweekblad weet. Die vermoede is dat daar nog tientalle is wat in die afgelope weke of maande slagoffers van soortgelyke bedrog was.Vaalweekblad het Vrydag ondersoek begin instel nadat verskeie lesers laat weet het dat ‘n netjiesgeklede man wat hom as ‘n amptenaar by die lisensiekantoor voorgedoen het, niksvermoedende mense Donderdag en Vrydag uit hul geld bedrieg het.
Hy het aan minstens nege mense wat Vrydag in ‘n ry by die Vanderbijlparkse lisensiekantoor gewag het om hul voertuiglisensies te hernu, voorgestel om hul dokumente en lisensiegeld aan hom te oorhandig. Hy het beweer dat hy hul geld self by die kassiere sou gaan inbetaal om hul hernuwings vinniger af te handel.
Aangesien van die mense, hoofsaaklik ouer garde, toe reeds twee ure of langer in die tou gestaan het, het hulle sy aanbod aanvaar. Die man het aan hulle gesê die lisensiekantoor se kaartmasjien is stukkend en dat hy net kontant kon gaan inbetaal. Van die mense wat beplan het om met ‘n kaart te betaal, het toe by ‘n nabygeleë motorhawe se OTM kontant gaan trek en dit saam met hul dokumente aan hom oorhandig.
Die man het belowe om gou terug te wees met hul kwitansies. Hy het weer ‘n paar keer teruggekom om vir sommige van die mense te sê dat daar uitstaande boetes van tussen R500 en R700 op hul voertuie was en dat hulle dit ook eers in kontant moes bybetaal voordat hul nuwe lisensies uitgereik kon word. Dit was die laaste sien van die “behulpsame amptenaar”, wat in een van die kantore verdwyn het. Toe hy na 45 minute nog nie terug was nie, het hulle onraad vermoed en die situasie aan die sekuriteitspersoneel gaan verduidelik, wat by die kassiere gaan verneem het wat aangaan.
Die vroulike kassiere het ontken dat enige geld of dokumente by haar inbetaal is en het gesê sy weet niks van ‘n persoon wat kliënte in die ry “gehelp” het nie. “Sodoende is nege mense sprakeloos gelaat nadat hulle oop en bloot geflous is. Almal van ons wat so gevang is, is daar weg sonder ons geld óf ons nuwe voertuiglisensies,” sê een van die ontstoke slagoffers.Een persoon het saam met sy “boetes” R2 600 verloor. Nog twee het onderskeidelik R2 000 en R1 700 verloor. Die ander slagoffers se verlore bedrae het tussen R900 en R1 400 gewissel.
“Die welsprekende swendelaar was netjies aangetrek en ek was oortuig dat hy ‘n amptenaar is want hy het heel tuis in die gebou gelyk. Dit het ook gelyk asof hy die ander amptenare goed ken, daarom was ek heel gemaklik om my geld en dokumente vir hom te gee,” sê een van die vroulike slagoffers.Die persoon wat R1 700 verloor het, sê hy kan homself skop vir sy goedgelowigheid. “As ‘n rower dit by my gegryp het, sou dit minder van ‘n verleentheid gewees het,” sê hy.
Van die slagoffers het opgemerk dat die verdagte ‘n helper gehad het, en een van die mans het besonder opvallende rooi tekkies aangehad. Een slagoffers sê sy het gesien toe een van die mans ‘n dik rol note aan ‘n kassier agter ‘n skerm oorhandig het, maar weet nie of dit die slagoffers se geld was nie.
Sekuriteitspersoneel van die lisensiekantoor het agterna aan die slagoffers gesê hulle kan ongelukkig niks doen om hulle te help nie. “Hulle sê hulle kan geen verantwoordelikheid neem vir wat gebeur het nie, want daar is ‘n kennisgewing buitekant opgeplak dat geld aan niemand anders as aan die kassiere oorhandig moet word nie,” sê een van die ingeloopte mense.
“Ek kon sien van die slagoffers is behoeftig en van hulle was erg ontsteld omdat hulle nie geweet het waar hulle weer geld gaan kry om vir hul lisensies te betaal nie. Dis ‘n baie ontstellende en hartseer situasie.”
BERIG 2 – Dié soort bedrog kom glo al jare voor
VANDERBIJLPARK. – Swendelstreke in die dorp se lisensiekantore is skynbaar niks nuuts nie. Nadat Vaalweekblad Vrydag ondersoek na ‘n beweerde bedrogspul begin doen het, het verskeie ander mense gerapporteer dat hulle ook ‘n tyd gelede gekul is deur skelms wat hulle as amptenare van die lisensiekantoor voorgedoen het.
Soms wag die swendelaar niksvermoedende lede van die publiek buite die gebou in en vra dan of hy kan help. Hy beweer dan dat hy mense in die gebou ken wat jou dokumentasie vinnig kan afhandel sodat jy nie in ‘n lang tou hoef te wag nie – alles natuurlik teen ‘n “fooi”.
“Afhangend van wat jy wil laat doen, gee hy dan vir jou ‘n bedrag wat jy aan hom moet oorhandig. Hy vat dan jou ID-dokument en gaan maak kamtig ‘n afskrif daarvan. Dan gaan hy die gebou binne, kom na paar minute uit en sê dit sal nog so 30 minute neem. Hy staan dan daar en talm en maak of hy met iemand oor die foon praat. Na ‘n rukkie sê hy hy gaan gou iemand in die parkeerterrein sien. En dan verdwyn hy net. Hy het vir ons gesê sy naam is Jimmy en hy het selfs sy selnommer vir ons gegee. Toe hy nie terugkom nie en ek hom bel, het hy gesê hy is besig in die gebou. Ek het gewag maar hy het nie weer teruggekom nie. Toe ek weer bel was die foon af,” sê ‘n vrou wat R1 300 verloor het.
‘n Ander persoon is byna op ‘n soortgelyke wyse “gehelp” deur ‘n man wat hom as Mr. Lukas voorgestel het. “Hy het gesê hy kan mens met enige taak in die lisensiekantoor help – teen ‘n koste van tussen R200 en R1 500. Ek het saam met hom na die kassiere gestap maar dinge het begin handuitruk toe ek sien hy het nog vier ander mense se dokumente by hom. Ek het agterdogtig geraak toe hy my vra om my kontant te oorhandig en hy my voertuig se registrasiepapiere van vooraf wou invul. Ek het ongemaklik gevoel en net daar my geld gegryp en na Q-No-More gegaan,” sê die man, wat betyds ‘n rot geruik het.
Nog ‘n inwoner van Vanderbijlpark is reeds drie jaar gelede ingeloop: “Ons wou destyds ‘n sleepwa op ons naam sit en staan toe in ‘n ry toe ‘n man van agter uit die kantore kom en aanbied om ons te help. Hy is daar weg met ons papiere en kom toe terug met die boodskap dat daar uitstaande boetes is wat ook eers betaal moet word. Ons moes R2 000 gee en hy sou dan ook sorg dat die sleepwa deur die toets gesit word. Hy is toe daar weg maar het na ‘n ruk teruggekom en gesê die drukker is stukkend en dat ons die volgende dag moes terugkom vir ons drukstuk. Toe ons die volgende dag daar kom, was daar geen teken van hom nie en ons kon hom nooit weer vind nie. Ons het die mense wat daar werk gevra waar hy is, maar niemand het geweet van wie ons praat nie. Ons het geglo hy ken die amptenare want hy het in die kantore rondbeweeg asof hy ‘n ou bekende daar is,” sê hy.
‘n Vanderbijlparkse vrou, Cindy, wat onlangs heelwat werk by die lisensiekantore moes laat doen, sê ‘n man het haar ook genader met die aanbod om al haar sake teen ‘n bedrag van R6 000 af te handel. Ek het gesê nee dankie en het van die oggend 11:00 tot die middag 15:00 in die ry gestaan en my sake self afgehandel. Mens moet maar geduldig staan en wag want as jy kortpaaie wil vat, doen scammers jou in,” sê sy.
Vicki Maree som dit só op: “Mense raak desperaat. Diens in die openbare sektor is swak, en mense moet soms meer as een dag by die werk afvat om hul lisensies te hernu. Daar is iets baie ernstig fout in ons land, maar dit is ‘n presedent wat geskep word deur die regering omdat daar geen nagevolge vir korrupsie is nie.” * Die slagoffers se identiteit word op hul versoek weerhou.
In komende week se Vaalweekblad (22 September) vertel ons van ‘n mediese dokter wat op soortgelyke manier deur skelms by die lisensiekantore ingedoen is.
***********************************************************************************************************************
