Mialinke – kardioloog vir eers tevrede
Dit gaan goed met Mialinke, vir nou, maar die derde hartoperasie moet binnekort gedoen word. Finansiële hulp word steeds benodig asseblief.
VANDERBIJLPARK. – Mialinke Niemand, die 4-jarige wat met Hipoplastiese regterhartsindroom (HRHS) gebore is, se besoek aan die kardioloog op 15 September 2021 het goed afgeloop.
Haar ma, Janita, het laat weet Mialinke se suurstof in haar liggaam is wel laer as wat dit moet wees, maar die dokter sê dis te verwagte voor haar derde hartoperasie.
Hy het al die nodige EKG en hart sonars gedoen en is tevrede met haar toestand. Die goeie nuus is dat sy vir eers okei sal wees.
Die derde operasie moet steeds plaasvind en sal gebeur sodra genoeg fondse bymekaar gemaak is of die gesin se mediesefonds instem om te betaal.
Die gesin was verlede jaar vir ‘n wyle sonder medies nadat Mialinke se pa sy werk onverwags verloor het.
Hy het intussen weer werk gekry en daar is vir Mialinke en haar ma weer medies uitgeneem.
Ongelukkig het die mediesefonds vir Mialinke op ‘n jaar wagtydperk geplaas alvorens hulle enige iets vir haar aangebore hartkondisie sal betaal.
Die wagtydperk sal in Maart verby wees, maar dit kan te laat vir Mialinke wees. Tot dusver het die mediesefonds geweier om ‘n uitsondering vir die op en wakker dogtertjie te maak.
Die kardioloog het nou onderneem om die mediesefonds se raad te skakel en om ‘n motiveringsbrief te skryf om te kyk of hul sal oorweeg om te help.
Intussen is daar al verskeie projekte geloods om geld vir Mialinke se mediese onkostes in te samel.
Die eerste mikpunt is R350 000. Dit word benodig vir die hartkateterisering wat onder narkose gedoen moet word voordat die hartoperasie kan plaasvind.

Op 17 September het Mialinke-hulle as span, “Hengel vir ‘n Engel”, aan ‘n hengelkompetisie van een van die kerke in Sasolburg deelgeneem.
Hulle het ‘n blikkie vir kleingeld by die snoepie gesit en het darem R602 gemaak.
Janita sê dit was lekker om vir die dag in die vars lug te wees en hulle het dit geniet.
Intussen is daar ook met lootjie-verkope op ‘n WhatsAppgroep begin en het hulle al R11 500 op die manier ingesamel.
By die kardioloog is daar reeds R20 000 vir toekomstige afsprake en in die trust wat gestig is, is daar oor die R30 000.
Dan vind daar op 22 Oktober ‘n Noteraai Musiekaand plaas by Dixies Wedding & Party venue in Vanderbijlpark.
Vir meer besonderhede oor die Noteraai-aand en die trustfonds se rekeningbesonderhede gaan volg die Facebookblad, Heart Warrior Mialinke.
Janita het laat weet: “Almal is so amazing en help en donate en promote orals waar hul kan en belangrikste van als, bid almal vir Mialinke en dit sal ons deur dra.”
Lees hier Vaalweekblad se vorige artikel oor Mialinke se pad tot dusver.
