Local newsNationalNewsNews

Suid-Afrikaanse soldate wat in oorloë en veldslae gesneuwel het vereer

Daar is op Sondag 19 September 2021 eer gegee aan Suid-Afrikaanse soldate wat in oorloë en veldslae gesneuwel het tydens 'n kranslegging by die senotaaf voor die stadsaal in Vereeniging.

VEREENIGING. – Weermagveterane van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV), lede van die Vaaldriehoek Kultuurnetwerk en lede van die publiek het die geleentheid bygewoon.

Elkeen wat die parade bygewoon het die naam van ‘n spesifieke soldaat uitgelees en ‘n protea by die senotaaf by die stadsaal neergelê.

Die protea is Suid-Afrika se nasionale blom en is om hierdie rede as die geskikte blom gekies vir die kranslegging.

‘n Hoop proteas by die senotaaf by Vereeniging se stadsaal. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Johann du Preez, nasionale voorsitter van die SAWV vorm die gedenkdiens deel van Operasie “White Dove”.

Die rede vir hierdie operasie is om ons makkers wat die hoogste prys betaal het, wat almal in die grensdiens hul lewens opgeoffer het te vereer,” het Du Preez aan Vaalweekblad verduidelik.

Weermagveterane gee die saluut vir soldate wat hul lewens in oorloë en veldslae verloor het. Foto: Christiaan Cloete

Freddie Peters, lid van die Vaaldriehoek Kultuurraad en speaker van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, het as gasspreker by die geleentheid opgetree.

Peters het in toespraak voor die kranslegging gesê dat baie Suid-Afrikaners oor die jare hul lewens in die Anglo-Boereoorlog, grensoorloë en die groot wêreldoorloë verloor het.

Peters was persoonlik in 1975 by Operasie Savannah, ‘n militêre inval van Angola betrokke as bevelvoerder van ‘n lugafweer-groep van ongeveer 300 soldate op die front.

Hy het tydens die geleentheid ‘n interessante staaltjie oor ‘n noue ontkoming tydens die oorlog vertel.

Dit was so hittete of Freddie Peters was destyds tydens die inval van Angola in 1975 bokveld toe. Hier vertel hy hoe hy en sy makkers in die loop van ‘n Browning-masjiengeweer vasgekyk het. Foto: Christiaan Cloete

Peters vertel dat hy en ses soldate per Jeep van die omgewing van Rundu (in Namibië) na ‘n plek genaamd Villa Rosades gereis het om troepe daar te besoek.

Met Ronnie Fleetwood wat die Jeep bestuur het en Peters wat op die passasiersitplek regs voor gesit het, het hulle om ‘n draai gery.

Toe hulle om die draai kom was daar ‘n groep van ongeveer 200 swart soldate wat die hele pad vol gestaan het.

Daar was ook ‘n groot vragmotor met ‘n Browning .50 kaliber masjiengeweer wat op hulle gerig was.

Peters vertel: “Ek het my soldate geleer om altyd hulle gewere gereed te hou met ‘n patroon in die loop. Ek sê toe vir hulle om hulle gewere op die vyand gerig te hou maar nie te skiet nie.”

Vir Fleetwood het Peters gevra om stadig aan te ry maar nie te stop nie.

“Ons het nie geweet of dit vriend of vyand is wat voor ons staan nie,” vertel Peters.

Peters vertel hoe hy in die loop van die Browning-masjiengeweer vasgekyk het en toe in die Jeep opgestaan het en vir die mans in die pad beduie het om pad te gee.

Wonder bo wonder het die soldate plek gemaak sodat Peters en sy soldate verby kon gaan sonder enige bloedvergieting.

Peters meen die rede hiervoor is waarskynlik dat die vyand verwag het dat daar nog Suid-Afrikaanse soldate agter hulle voertuig op pad was.

“Daar was toevallig niks agter ons nie. Maar hulle het dit nie geweet nie,” vertel Peters.

“My analise van die situasie was: As ons stop skiet hulle ons dood. As ons hulle skiet is ons in die minderheid want hulle is 200 en ons is 6 en dit was ‘n geveg wat ons nie sou kon wen nie,” vertel Peters.

 

Proteas word by die senotaaf neergelê. Foto: Christiaan Cloete

Sektorkapelaan Koos van Zyl het tydens ‘n kort erediens voor die kranslegging gesê dat God dikwels oorlog gebruik om vrede te bewerkstellig.

Hulle het hul lewens verloor sodat ons vandag hier kan staan, hier kan sit. Dit is hoekom dit ons plig is om hierdie opdrag van God uit te voer en ons gevalle vriende, soldate, familielede, ons makker vandag te vereer.”

‘n Vrou lê Sondag (19 September 2021) ‘n krans by die senotaaf by die stadsaal in Vereeniging neer. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button