LifestyleNews

Simoné Roets – Dans In Die Donker

“Soms moet ’n mens net doen wat in jou hart en in jou hande is en nie te veel verder daaroor dink nie. Dink minder, doen meer"

Simoné Roets het pas haar debuut-Afrikaanse enkelsnit en musiekvideo, DANS IN DIE DONKER, uitgereik, wat die eerste vrystelling is vanaf haar komende album wat vir later vanjaar beplan word.

Simoné is ’n Suid-Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer wat tans in Brisbane, Australië, woon. 

Dans in die Donker is ’n inspirerende enkelsnit wat daarop gemik is om vir luisteraars hoop te gee.  Dit gaan ook daaroor dat jy nie hoef te wag totdat alles perfek is in jou lewe voor jy met oorvloed leef en liefhet nie.

Simoné het in Nelspruit grootgeword.  As kind het sy in sport uitgeblink en na skool Regte gaan studeer. Tydens hierdie tyd van haar lewe, was sy in ’n kreatiewe omgewing wat haar gehelp het om ’n ander deel van haarself te ontdek. Net daar het haar passie vir musiek ontstaan en het sy besluit om haar eerste kitaar te koop.

In 2016 het sy ’n kortspeler vrygestel genaamd Take Over. Die twee snitte, My Dear en Create In Me, is geskryf toe sy in 2018 saam met ander musikante aan ’n projek gewerk het. Sy is ook baie betrokke by die Hillsong City Campus in Brisbane.

Hierdie talentvolle dame is nog nuut in die bedryf, maar is vasberade om haar vaardighede as sanger en liedjieskrywer te ontwikkel en haar volle potensiaal te bereik.

Omdat Simoné se styl eerlik en opreg is, is dit vir haar belangrik om te skryf oor dít wat weerklank vind in haar eie hartklop. Daarom vind sy inspirasie in haar eie en die mense rondom haar se stories en ervarings. “Vir die mense wat wonder of ek oor hulle skryf, ek doen tien-teen-een,” sê sy met ’n vonkel in die oog.

Daar is verskeie mense wat ’n invloed het op haar musiek. Dit wissel van Brandon Lake, Charlotte Lawrence en Amanda Lindsay Cook, Duncan Laurence tot Khalid, Kalley, en selfs Justin Bieber.

Simoné geniet dit om saam met ander Afrikaanse musikante te werk en vind aanklank by Joshua na die Reën, wat saam met haar ’n liedjie (Ongerep) op haar nuwe album sing.

Mense assosieer Simoné hoofsaaklik met haar regsagtergrond en avontuurlus – sy geniet fisiese uitdagings en neem gereeld aan aktiwiteite soos hinderniswedstryde deel. Sy glo dat hierdie ander aspekte haar die vryheid gee om haarself uit te leef en teen haar eie tempo te groei in die musiekbedryf.

Vir haar gaan musiek nie oor sukses nie, maar eerder oor die voorreg om iets uit niks te skep en dit met ander te deel. Soms moet ’n mens net doen wat in jou hart en in jou hande is en nie te veel verder daaroor dink nie. Dink minder, doen meer. Ek glo dit is belangrik vir ons almal om die dinge te doen waaroor ons passievol is, hetsy dit nou ’n voltydse werk of stokperdjie is, en om onsself ook nooit met ander mense te vergelyk nie.”

 

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Instagram@simone_roets_

Facebook: https://www.facebook.com/simoneroets.music/

YouTubehttps://www.youtube.com/channel/UC2_Nq9GLhF-RdnWAhGLQoFQ

 

************************************************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button