
Op 24 September is dit weer tyd vir die Goeiehoek-kontreimark op die plaas Bosrand, net ‘n paar minute se ry uit Vereeniging op die Heidelbergpad.
Kom verlekker jou in ware boeregasvryheid en meer as 100 stalletjies waar plaasvars groente, biltong, kaas, gemmerbier, spoggerige tuisgebak, ingemaakte en unieke handgemaakte artikels vir die huis, klerekas, tuin en lapa te sien en te koop sal wees. Daar is ook kunswerke, juwele, oudhede en vele meer.
Vir die lekkerbekke is daar tradisionele boere-etes soos pap en kaaiings, en ‘n gesellige teetuin vir dié met ‘n soettand.
Bring gerus die kleinspan saam. Hulle sal die uitgestrekte plaasomgewing geniet en kan ook op die ponies ry.
Onthou net om jou masker, gemaklike skoene, ‘n hoed en sambreel saam te bring. Sorg ook vir genoeg geld in jou sak want daar is ongelukkig nie kitsbank-geriewe nie. Sommige uitstallers gebruik wel kaartmasjiene.
‘n Projek wat die boere van die gebied na aan die hart lê, is om hulp aan boere in die droogtegeteisterde Merweville in die Karoo te gee. Hulle vra dus dat almal wat op 24 September die mark besoek, asseblief enigiets soos blikkieskos, gesigseep, lyfroom, huishoudelike skoonmaakmiddels, goeie bruikbare tweedehandse klere en enige linne of ander huishoudelike artikels as ‘n vrywillige ingangsfooi saambring. Dit kan ingedien word by die stalletjie langs die saal, waar artikels wat deur die Merwevillers gemaak het, ook te koop sal wees.
‘n Wit-olifantveiling gaan ook ten bate van Merweville se mense gehou word. Enige wit-olifante in jou huis, tuin, garage of stoor sal met dank ontvang en opgeveil word. Meer besonderhee is beskikbaar by Annatjie by 083 541 9908.
* Padaanwysing na Goeiehoek-kontreimark: Neem die R42 Vereeniging/Heidelbergpad by 4Way Motors in Drie Riviere. Draai rigting Goeiehoek by die Meyerton/Goeiehoek-kruising. Na 4 kilometer vanaf die kruising, draai regs in die syaansluiting – rigting Goeiehoek. Bosrand is die eerste plaas op linkerhand ná die syaansluiting. Koördinate: GPS: S26°38’58.1 E28°06’50.0 of vind Goeiehoek Kontreimark op Google Maps.


************************************************************************************************************************
