Meyerton onderwyseres een van Top 20
Nog 'n Valie is onder Solidariteit se finaliste vir die onderwyser van die jaar toekennings.
Een van die Laerskool Voorwaarts in Meyerton se graad 2 onderwyseresse, Macherie Strydom is een van die 20 finaliste wat ‘n kans staan om as laerskoolonderwyser van die jaar gekroon te word.
Die finaliste is op Solidariteit se webtuiste bekend gemaak en die publiek kan nou vir hul gunsteling hoër – en laerskool onderwysers gaan stem.
Elke finalis se storie word in sy of haar eie woorde vertel op Solidariteit se webtuiste.
Marcherie vertel van haar liefde vir die onderwys en kinders en hoe sy elke dag ‘n verskil kan maak.
Sy sê: “Jy besef dit dalk nie altyd nie, maar jou sagte stem, jou lag en toeganklikheid maak dalk net daai eensame kind in jou klas se dag.
“Ek dink deur die tye het ons so baie bereik met kinders, en ek voel dat ons werklik uit ons pad gaan om hulle toekoms beter te maak.
“Ek wil al my liefde en omgee, aan elke kind in my klas gee. Ek wil hê hulle moet soos sponsies wees en als opsuig wat ek hulle leer.
“Ek dink nie jy kies die beroep as onderwyser nie, die beroep kies jou.”
Die aanlyn stembusse is oop tot 1 Oktober 2021 om 17:00. Gaan stem by https://bit.ly/3kBfevK.
