Kommer oor veiligheid by Jakobskop-begraafplaas
Jy waag jou lewe om alleen die Jakobskop-begraafplaas buite Vereeniging te besoek. Dit is die algemene gevoel onder mense wie se geliefdes daar begrawe lê.
VEREENIGING. – Verskeie mense het aan Vaalweekblad vertel dat hulle in jare nie die grafte van hul afgestorwe geliefdes besoek het nie omdat hulle te bang is om dit alleen in die begraafplaas te waag.
Verskeie mense het getuig oor aanvalle op mense wat die grafte van hul geliefdes besoek en selfs kapings wat daar plaasvind.
Die Sektor 2-gemeenskapspolisieëringsforum, patroleerders en sekuriteitsmaatskappye het op Erfenisdag 2021 (2021/09/24) ‘n groot groep mense na die Jakobskop-begraafplaas buite Vereeniging vergesel sodat hulle die grafte van hul geliefdes kan besoek.
Mense voel veiliger as hulle in ‘n groep na die begraafplaas gaan.
Die groep mense het om 08:30 by die Checkers in Arcon Park byeengekom en van daar af in ‘n konvooi na die begraafplaas vertrek.
Daar is tussen 09:00 en 12:00 gewerskaf om grafte skoon te maak, onkruid uit te trek, blomme neer te lê, ornamente te verf en om gebede op te sê terwyl patrolleerders seker gemaak het dat almal veilig is.


