Spiertier se oog op Pro-kaart
VANDERBIJLPARK. – Sy bynaam is nie verniet ‘Quadzilla’ nie. Wanneer mens die 27-jarige Jan Cilliers, ‘n belowende liggaamsbouer van Vanderbijlpark in ‘n kortbroek sien, maak dit alles sin. Hy het bene soos boomstompe wat uit graniet gekerf is. Elke bobeen se omtrek is ‘n indrukwekkende 66cm. En dié lys van afmetings gaan net aan en …
VANDERBIJLPARK. – Sy bynaam is nie verniet ‘Quadzilla’ nie. Wanneer mens die 27-jarige Jan Cilliers, ‘n belowende liggaamsbouer van Vanderbijlpark in ‘n kortbroek sien, maak dit alles sin. Hy het bene soos boomstompe wat uit graniet gekerf is. Elke bobeen se omtrek is ‘n indrukwekkende 66cm.
En dié lys van afmetings gaan net aan en aan. Sy droom na ‘n dekade van ysters buig is om eersdaags ‘n beroepskaart by die Arnold Classic te verdien. Die Arnolds vind vanjaar op 20 en 21 November in die Walter Sisulu Sport Hall in Randburg plaas. “Daar word 10 pro-kaarte uitgedeel. As jy jou afdeling wen, kry jy een. Dit is waarvoor ek mik,” sê hy.

Die gebore en getoë Vaaldriehoeker het in 2019 reeds vir die Arnold Classic gekwalifiseer, maar gaan in Oktober aan Mnr. Boksburg Liggaamsbou-kompetisie as kleedrepetisie vir Arnolds deelneem.
“Die “shows” is baie duur. Ek gaan die provinsiale byeenkoms en die SA’s op ys sit. Ek mik hoër. My doelwit is om my pro-kaart by die Arnolds te kry.” Hy spog tans met ‘n liggaamsvet persentasie van slegs 6% maar beoog om met slegs 3% vet by die Arnold Classic te spog. “Volgens die masjien moet ek nog 6kg verloor. Ek het reeds van 100kg tot 85kg afgekom. Ek weet nie waar die ander 6kg sit nie, maar ek sal dit afwerk,” spot hy.
Om vir ses tot sewe weke ‘n streng dieet te volg klink vir meeste mense soos ‘n straf, maar nie vir hom nie. “Liggaamsbou, oefen, dieet en kompetisies is my lewe. Ek geniet dit. Gim het vir my baie selfvertroue en selfdissipline gegee.

Ek het voor dit baie gesukkel om met mense te kommunikeer,” bieg hy. Hy het op 17-jarige ouderdom vir die eerste keer aan ‘n liggaamsbou-kompetisie deelgeneem en heel laaste geëindig. Die ontslape Janneman Espag en ander bekende plaaslike liggaamsbouers, Michael Appelcryn en Bennie Pelser, het hom daarna onder hul vlerk geneem en hom die fynere kunsies geleer.

“Ek het daarna net verbeter en goed ‘geplace’ (in die o.80kg-kategorie). Ek het ook ‘n paar keer die juniors gewen.” Mark Wheelan van Muscle Meds in Vanderbijlpark is tans sy afrigter en aanvullingsborg, maar sonder die emosionele en finansiële bystand van sy vriendin en vriende sal hy nie op dié vlak kan meeding nie. “Kos is alles. As jy nie reg eet nie, kan jy dit maar los. Die regte kos en aanvullings is baie duur,” gee hy te kenne. Ek is baie dankbaar vir al die hulp en ondersteuning,” sê hy.
