Vaal se krieketmonster moker 278 lopies
VANDERBIJLPARK. – As enigeen in onkunde gedink het, dat sy onlangse dubbele honderdtalle ‘n vloekskoot was, loop daar nou eiergeel van hul gesigte af. Die 12-jarige Rico van der Walt. ‘n leerling aan die Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark, het die ongelowige Thomasse se monde vir eens en vir altyd gesnoeg toe hy gister in Johannesburg …
VANDERBIJLPARK. – As enigeen in onkunde gedink het, dat sy onlangse dubbele honderdtalle ‘n vloekskoot was, loop daar nou eiergeel van hul gesigte af.
Die 12-jarige Rico van der Walt. ‘n leerling aan die Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark, het die ongelowige Thomasse se monde vir eens en vir altyd gesnoeg toe hy gister in Johannesburg vir Sedibeng 278 lopies van 128 aflewerings teen JHB Suid gemoker het.
Dié warrelwind beurt het 24 sesse en 25 viere ingesluit, voordat hy been voor paaltjie betrap is. Hy het die seisoen in ses beurte 739 lopies vir sy skool se eerstespan van 278 aflewerings gemoker.
Dit sluit die honderdtalle- en dubbel honderdtalle uit wat hy op provinsiale vlak gemoker het. Vroeër vandeesmaand het die jong wilgerlatswaaier die tonge laat klap toe hy onderskeidelik teen die Laerskool Vaalpark en Laerskool Fonteine 202 lopies aangeteken het. Die 200-tal teen Vaalpark het 79 aflewerings geverg, maar hy het teen Fonteine slegs 71 balle benodig om sy 200-tal te behaal.
Nes sy krieket-rolmodel, Quinton de Kock, doen hy ook agter die penne diens, maar volgens Rico hou hy die minste van veldwerk. En mens kan sien hoekom. Wanneer jy so gereeld die middel van die kolf tref, sal mens ook meer tyd voor as agter die penne wil spandeer.

Die jong kolfmeester het dit vandag weer teen Verre-Noord bewys toe 99 lopies aangeteken het. Hy het in die twee opwarmingswedstryde vir Sedibeng 52* en 101* aangeteken.
Sy kop staan egter aanstaande jaar Jakarandastad se kant toe en die Vaaldriehoek se verlies sal die Hoërskool Waterkloof se aanwins wees. Een ding is verseker dat die naam Rico van der Walt eendag in elke huishouding bekend sal wees.
