VANDERBIJLPARK. – Die AfriForum-tak in die dorp hou van 26 September tot 1 Oktober ‘n #VegEnBou-week en gaan tydens die week verskeie projekte aanpak. Dit maak deel uit van die strategiese doelwitte van AfriForum se veg-en-bou-plan wat vroeër vanjaar bekendgemaak is.
Dié plan se kernfokuspunte is veiligheid, selfstandigheid, geregtigheid, identiteit en organisasiebou.
Die tak se program lyk soos volg:
- 26 September – Begraafplaasdiens by die Vanderbijlpark-begraafplaas
- 27 September – Skoonmaak van veld parkie: Die plek sal bevestig word.
- 28 September – Vul van slaggate: Plek sal bevestig word.
- 29 September – Boomplantdag by Lochvaal-deurgangshuis
- 29 September – Boomplantdag by Nanescol-begraafplaas
- 29 September – Laerskool Vaalrivier bederf en speel by kinderhuis
- 30 September – Dag van bederf en kuier by Pioneer House
- 1 Oktober – Massapatrollie
“AfriForum wil ‘n toekoms skep waar Afrikaners vry, veilig en voorspoedig hier aan die suidpunt van Afrika kan voortbestaan, in vreedsame naasbestaan en met wedersydse erkenning en respek.
Ons wil die bestaande werklikhede op ‘n sinvolle manier beïnvloed en nuwe ‘werklikhede’ skep deur selfstandige gemeenskappe en sterk gemeenskapsinstellings te bou en te ondersteun.
Die plan kan in twee eenvoudige woorde opgesom word: ‘veg’ en ‘bou’,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.
Die tak het ook ‘n leuse vir die veg-en-bou-week geskep naamlik: “Veg agteruitgang en bou ‘n toekoms”. As ‘n gemeenskap saamstaan en help bou, kan en sal dit geslaagd wees, is AfriForum se standpunt.
Die tak nooi die gemeenskap om by AfriForum betrokke te raak en saam met die organisasie te werk om agteruitgang te beveg.
Skakel 072 908 1345 of stuur ‘n e-pos na vanderbijlpark@afriforumtak.co.za vir meer inligting of om by dié week betrokke te raak.


*************************************************************************************************************************
