Amper was die sendeling die wolf!
Die ou Afrikaanse radioverhale het 'n bekoring van hul eie gehad, en amper was ek in die moeilikheid oor een van hulle.
Lank, lank gelede in die dae voor rekenaars en die internet kon Suid-Afrikaners net vir so ‘n paar uur in die aande televisie kyk.
In die middae is daar na radio vervolgverhale geluister. In my dae was dit Springbokradio.
Ek was in standerd 5 (graad 7 vir hierdie eeu se kinders) en het in die middae na skool by my tannie Kittie gebly, want my ma het in die bank gewerk.
Ek en Kittie (ek het haar nooit getannie nie, sy was te spesiaal daarvoor, het elke middag ons eie roetine gehad.
Sodra ek by die huis gekom het, het ek baie dramaties my skoolskoene uitgeskop, my tas langs die kassie neergeplak en Kittie gegroet.
Sy was ‘n ystervrou, wat ten spyte van chroniese siekte, elke dag fluks self kos gemaak het, huis skoongemaak het en selfs in die tuin gewerk het.
So by een uur in die middae het sy in haar uitskopstoel gaan sit en koerant lees.
Dan het ek eers gaan eet en my bord gewas, voordat ek my tas nadergetrek en langs haar op die mat gaan sit en huiswerk doen het.
Altyd met die radio aan, want …
“As die hadida oor ‘n huis vlieg en sy angsroep oor die vallei skeur. Sê hulle dit iemand gaan sterf.
“Dis dan wanneer die wolf uit sy skuilplek kruip … As antwoord op die roep.”
Dit was Leon van Nierop se Wolwedans in die Skemer, die tweede reeks wat van 1983 – 1984 uitgesaai is.
Ons het nie ‘n episode gemis nie!
Die besonderse middag het ek weer my boeke uitgepak in ‘n goeie poging tot huiswerk. Afrikaanse letterkunde.
Daardie jaar het ons een van die skrywer, Mikro se Sias en Mias boeke as voorgeskrewe boek gehad.
Vir die van julle wat nie die boeke ken nie, Sias en MIas was ‘n onnutsige tweeling wat allerhande avonture beleef het wat hul sendeling-pa gryshare gegee het.
Allegeval, die middag is ek besig om in my Afrikaanse letterkunde skrif (dis nou daai lyntjiesboeke wat met bruinpapier en plastiek oorgetrek moes word) in my beste skoonskrif die vrae oor die boek te antwoord.
Dit sou goed gewerk het as ek al my aandag by my werk bepaal het, maar nee ek luister toe weer Wolwedans in die skemer.
Dit was een van daardie spannende episodes waar die wolf weer uit sy skuilplek gekom het …
Sal nooit vergeet nie, wat ek in die boek wou skryf was: “Hy (dis nou die tweeling se pa) kyk uit oor sy gmeente en besluit om oor die liefde te preek.”
Wat egter in my boek verskyn het was: “Hy kyk uit oor sy gemeente en besluit om moord te pleeg.”
Gelukkig het ek die fout agtergekom, dit doodgetrek en oorgeskryf, maar ons het lank gelag oor die sendeling wat skielik wou moord pleeg.
Wanneer die middagstories klaar was en die Chappy Chipmunk -klub begin het, het ons die radio afgesit en my skoolboeke is terug tas toe.
Dan het ek vir Kittie boeke voorgelees. Alles van Jan Spies se vertellinge, tot by die avonture van Uilspieël en al PH Nortjé se sketse.
Net tot half vier. Half vier was teetyd en daarna kon ek verder voorlees totdat my ma my gewoonlik net duskant half vyf kom haal het.
Die roetine het ons gehad vandat ek in standerd een was tot in matriek.
So het sy my ingebore liefde vir stories en stories vertel gevoed, maar my ook gereeld herinner om nie te droomverlore te raak nie.
“Anders laat jy weer die arme sendeling moord pleeg,” moes ek altyd hoor.
