News

Mediese dokter ook slagoffer van bedrog by lisensiekantore

Dit is nie net Vaaldriehoekse motoriste wat in swendelaars se slagysters by die plaaslike lisensiekantore trap nie...

VANDERBIJLPARK. – Dit is nie net Vaaldriehoekse motoriste wat in swendelaars se slagysters by die plaaslike lisensiekantore trap nie. Nadat Vaalweekblad verlede week berig het dat minstens nege mense op één dag uit hul geld gekul is, het inwoners van ander dorpe gerapporteer dat hulle ook ‘n bloutjie hier geloop het.

Een van hulle, ‘n vroulike mediese dokter van die Oos-Rand, sê sy kon vroeër vanjaar nêrens in haar gebied ‘n afspraak vir die hernuwing van haar bestuurslisensie kry nie. Sy kry toe een by Vanderbijlpark se lisensiekantore deur die eNatis-stelsel vir ‘n Vrydagmiddag in Junie.

“Ek het al my dokumentasie, insluitend ID-afskrifte, foto’s en ‘n oogtoets saamgevat, sowel as kontant, want ek het op Facebook gesien hul kaartmasjiene werk baie keer nie. Daar aangekom, was daar nie ‘n ry om van te praat nie – ‘n klomp mense het net op die stoep saamgedrom. ‘n Man het my genader en gevra of ek daar is vir my lisensie en of ek ‘n afspraak het, wat ek toe vir hom wys.

“Volgens hom was daar ‘n wateronderbreking en mense is nie in die gebou toegelaat nie omdat hulle nie die Covid-regulasies kon handhaaf sonder water nie. Hy sê toe hy kon my help maar hulle moes eers kyk vir uitstaande boetes. Hy het aan die lisensiedepartement se deur geklop en vir ‘n ander man binnekant my lisensie gegee. Dié man het op sy beurt vir hom ‘n groen vorm gegee wat ek moes voltooi. Die man het gesê daar is ‘n R1 000 boete wat ek eers moes betaal. Ek het nie soveel kontant gehad nie, maar die man het gesê daar is ‘n bankteller by die vulstasie en ek het die geld gaan trek. Hy het toe my geld vir die boetes en lisensie geneem, in totaal R1 400, en in die gebou verdwyn. Ek het gewag en gewag… en toe begin agterdogtig raak. Daar was ‘n tweede deur en ek het daar gaan klop.

“’n Vrou wat soos ‘n sekuriteitswag gelyk het, het die deur oopgemaak en sê toe nee, daar is geen mense van die lisensiedepartement binne nie, hulle is almal reeds huis toe vir die dag. Dit was net na 12:00 maar my afspraak was volgens die eNatis-stelsel eers vir 14:00 geskeduleer. Volgens die vrou was daar ook geen bestuurder met wie ek daaroor kon praat nie. “Deur dit alles het nog ‘n vrou van Johannesburg af alleen opgedaag om haar lisensie te hernu. ‘n Ander man as die een wat my ‘gehelp’ het, het haar buite genader en gesê hy kan haar nie dié dag help nie maar sal haar die Maandag bel om in te kom. Op pad na my kar het die man my ook ingehaal en gesê ek het my geld vir die verkeerde mense gegee, ek moes hom eerder gevra het dan sou hy my die Maandag gehelp het. Teen daardie tyd het ek niemand meer vertrou nie en is net reguit polisiestasie toe om ‘n klag te gaan lê.

“Op pad huis toe, net toe ek van die hoofweg afdraai by ons huis, lui my foon op die nommer wat ek op die groen vorm ingevul het. Dit was die man wat my by die lisensiekantore ‘gehelp’ het. Hy het gesê hy is jammer hy het verdwyn, maar hulle moes hof toe gaan om die boetes te laat ‘squash’ en dat ek nog R500 met eWallet moet oorbetaal. Ek vra toe, maar wanneer gaan ek my tydelike ID kry, waarop hy sê ek kan dit die volgende oggend 08:00 by die kantore kom haal. Ek het reeds geweet hulle is toe op naweke. Ek sê toe ek het my eWallet-limiet vir die dag oorskry, maar ek sal die volgende oggend my tydelike bestuurslisensie en bewys van aansoek vir lisensie en kwitansie kom kry, en dan vir hom die R500 kontant gee. Ek het gedink om die polisie saam te neem siende dat die saak reeds oopgemaak is, maar hy het aangedring ek moes dit onmiddellik doen, want hulle moes die boetes by die hof betaal. Ek het gesê ek kon nog steeds nie want my daaglikse limiet is bereik, en het die gesprek beëindig. Hy het my aanhou bel totdat my man hom gebel en gesê het hy hoor hy soek geld van sy vrou, toe hou hy skielik op bel.

“Ek was die volgende paar dae regtig bang in ons eie huis want die man het al my besonderhede tot sy beskikking op my dokumentasie gehad, maar gelukkig het niks verder daarvan gekom nie. Ek het darem later ‘n afspraak in Boksburg gekry en het reggekom.”

 

Berig 2 – Nóg frustrasies volg toe polisie nie saak wou oopmaak nie

VANDERBIJLPARK. – Nadat die mediese dokter uit R1 400 gekul is by die plaaslike lisensiekantore, is sy reguit na Vanderbijlpark se polisiestasie, waar nuwe frustrasies op haar gewag het.

Nadat sy haar ervaring aan die polisielede vertel het, het hulle gesê dit gebeur al meer as 10 jaar, maar dis ‘n mors van tyd om ‘n saak oop te maak.

“Ek het gesê my dokumentasie en geld is in daai kantore in, so ek dring daarop aan dat hulle ‘n ondersoek doen en ‘n saak oopmaak, want die swendelaars het al my inligting en daar is nou die risiko van identiteitsbedrog. Na 30 minute se redekawel het hulle uiteindelik ingestem om ‘n saak oop te maak,” sê sy.

Die polisielede het vir haar gesê hulle is bewus van die swendelstreke by die lisensiekantore en dat dit lyk of die swendelaars spesifiek enkelvroue en bejaardes teiken. Wanneer die polisie se “spioene” egter na sulke verdagtes gaan soek, nader niemand hulle met voorstelle om te help nie, dus kan hulle nie die skelms vastrek nie.

“Vir die mense wat sê hulle sal nooit deur sulke swendelaars gevang word nie… dit is wat ek ook gedink het. Met Covid het alles verander – ons het vir groot dele ook nie besoekers in ons hospitale toegelaat nie, so dit maak sin dat mense jou buite die lisensiekantore help en jou dokumentasie in die gebou in neem.

“Toe ek daar was, was daar omtrent 30 mense op die stoep voor die lisensiekantore en as jy nie van die omgewing is nie en nie die opset ken nie, het jy geen idee wat om te doen of waarheen om te gaan nie. En soos ek sê, die skelmstreke word baie, baie goed beplan. Die gebrek aan sigbare of identifiseerbare personeel maak sake net nog moeiliker. In Boksburg, waar ek uiteindelik gehelp is, is daar duidelike borde en rye, en identifiseerbare amptenare wat presies vir jou sê waar om te staan en watter ry om te volg.”

Hoewel die Vanderbijlparkse polisie die dokter se klag ondersoek het, het hulle haar intussen laat weet dat alle leidrade opgevolg is, maar dat die saak nou gesluit is en eers heropen sal word as verdere inligting aan die lig kom.

* Die dokter se identiteit word op haar versoek weerhou

*******************************************************************************************************************************

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button