Eureka Skool sê dankie
“Elkeen van ons besef net weereens dat alles wat ons daagliks as vanselfsprekend aanvaar vir hierdie kinders die wêreld beteken." - Anna-Marie Strydom
VEREENIGING. – In September is vier leerlinge van die Eureka skool vir fisies en verstandelik gestremde leerlinge se lewens ten goede verander.
Twee leerlinge het looprame ontvang, en twee leerlinge het onderskeidelik ‘n elektriese rystoel en ‘n gewone rystoel ontvang.
Die fondse is geskenk deur lojale ondersteuners van die skool, CBI electric: African Cables Vereeniging.
Hulle het ook handstutte vir nog drie leerlinge betaal.
Anna-Marie Strydom, die skool se skakelbeampte, het gesê: “Ons is ontsettend dankbaar vir hierdie skenking. Dit maak die kinders se daaglikse lewens soveel beter.
“Die gesiguitdrukkings van hierdie kinders kan nie beskryf word wanneer hulle besef hulle kan nou rondbeweeg op hulle eie nie.”
Die skool het ook die geleentheid gehad om klere vir van die leerders aan te koop nadat hulle ‘n voucher gekry het vanaf die Mr. Price Foundation.
Anna-Marie vertel: “Ons kon vir 21 leerders elkeen ‘n stel klere en ook onderklere koop.
“Vir hierdie kinders was dit oorweldigend, want die meerderheid het nog nooit die voorreg gehad om nuwe klere te kry nie.”
“Elkeen van ons besef net weereens dat alles wat ons daagliks as vanselfsprekend aanvaar vir hierdie kinders die wêreld beteken.
“Ons wil net dankie ae aan die Mr. Price Foundation vir die wonderlike werk wat hulle doen en dat hulle help om in die gemeenskap ‘n verskil te maak.”
