Vrou slaan aanvaller glo met knopkierie dood op plaas
'n Vrou van 'n plaas tussen Sasolburg en Heilbron het glo 'n gewapende aanvaller Maandag (2021/09/27) met 'n knopkierie doodgeslaan.
SASOLBURG. – Volgens brig. Motantsi Makhele, ‘n polisiewoorvoerder in die Vrystaat, was die aanvaller besig om haar man met die knopkierie te slaan tydens die aanval.
“Die man was op die grond met die aanvaller bo op hom,” verduidelik Makhele.
Die aanvaller het glo die kierie verloor, waarna die vrou dit opgetel het en die aanvaller daarmee geslaan het in ‘n poging om hom van haar man af te kry.
Die aanvaller het op die toneel gesterf.
Die man is na die hospitaal geneem vir behandeling.
Die paartjie is intussen as Petrus en Annemarie Smith van die plaas Weltevreden geïdentifiseer.
Volgens Makhele het die eienaar van die plaas en sy vrou omstreeks 18:30 by die plaas aangekom nadat hulle in Sasolburg was.
Die paartjie het met aankoms onraad vermoed toe hulle gemerk dat net een van hul honde in sy hok was.
Die vrou het om die huis geloop en een van haar honde, ‘n skaaphond, dood aan die agterkant van die huis aangetref.
Terwyl sy na die ander hond gesoek het, het sy haar man in die agterplaas hoor gil.
Sy is terug na die agterkant van die huis om te gaan kyk en het toe gesien hoe ‘n persoon aan wie hulle verblyf bied besig is om haar man met ‘n knopkierie aan te val.
Dit was toe wat sy toegetree het en die man aangeval het.
Volgens Makhele is ‘n groen graaf met bloed, sowel as die knopkierie met bloed op die toneel gevind.
Daar was ook ‘n mes met bloed langs die oorledene.
Volgens Makhele blyk dit of die hond met ‘n skerp voorwerp doodgesteek is.
Die polisie ondersoek die saak.
