Leerlinge skitter by Kunstefees
“Die kunstefees bied ‘n platform aan jong kunstenaars om hul liefde en talent vir die kunste uit te leef." Hilda Kloppers
SASOLBURG – Die Vaaldriehoek Kunstefees is in Augustus by verskeie skole in die Vaaldriehoek aangebied.
Die kunstefees is sedert 2013 ‘n jaarlikse instelling waar die klem val op deelname en selfontwikkeling en nie op wedywering nie.

Die Instrumentale en Vokale afdelings van die Vaaldriehoek Kunstefees is die jaar op Saterdag, 28 Augustus by die Etienne Rousseau Teater gehou.
Die fees se organiseerder, Hilda Kloppers, het gesê die beoordelaars was beïndruk met die hoë standaard wat deurgaans gehandhaaf is.
Een van die deelnemers wat werklik uitgeblink het was Werner Steffen op Elektriese Kitaar.
Dié graad 9 leerling van die Hoërskool Sasolburg speel al kitaar, onder leiding van Elizna Dempers van E-Sharp musiekskool, vandat hy agt jaar oud is.
Vincent van Schalkwyk (14) het weer die klassieke kitaar se snare geroer. Hy was nege toe hy met lesse by Elizna Dempers begin het, en hy het onlangs sy graad 7 UNISA eksamens voltooi.

In die vokale afdeling het Delainey Phillips, ‘n graad 2 leerling van die Laerskool Eligwa, almal verras met haar sang.
John-Peter van der Westhuizen en Alida Prinsloo onderskeidelik in Graad 8 en 10 aan die Hoërskool Transvalia het ook in die vokale afdeling geskitter.
Hilda sê: “Die kunstefees bied ‘n platform aan jong kunstenaars om hul liefde en talent vir die kunste uit te leef.
“Ons is oorweldig deur die positiewe terugvoer van deelnemers, wat nuwe inspirasie en motivering uit die ervaring geput het.”
Die organiseerders hoop om volgende jaar nog meer skole en deelnemers te betrek.
Die onderskeie afdelings waaraan kinders en volwassenes jaarliks kan deelneem is: Drama, Instrumentaal, Vokaal, Visuele kuns en Kreatiewe skryfwerk.
