LifestyleNews

Pandemie druk sy stempel ook op troues af

“Maar die punt bly staan: Al is daar net ‘n klein getal gaste teenwoordig, of al kyk gaste na die troue oor Zoom, die bruid wil mooi lyk en voel op die spesiaalste dag van haar lewe. Dit is waarna ek as ontwerper steeds elke dag streef om te doen" - Elizna Ebertsöhn, E2 Designs

Die Covid-19 pandemie het verreikende veranderinge in almal se lewens gebring. Dit is dus nie ‘n verrassing dat dit die troubedryf en alles wat met huwelike te doen het, met mening beïnvloed nie, van die troukoek, die onthaal en troufotografie tot bruidstabberds.

Elizna Ebertsöhn, Vaaldriehoekse ontwerper en eienaar van E2 Designs wat spesialiseer in trourokke, deftige aanddrag, strooimeisie- en matriekafskeidsrokke, sê sy sien in haar beroep elke dag ‘n verandering in bruide se behoeftes vir hul groot dag.

Die uitvoering van dienste wat met troues geassosieer word, het ook heelwat verander. Bruide moet nou die gewone 120 trougaste afskaal na ‘n maksimum van 50, en fotograwe moes vinnig leer hoe om saam met hul normale foto’s en video’s ook “Zoomtroues” te doen.

Die bruid se grimering moet natuurlik rondom ‘n masker aangepas word en die tydsberekening van ‘n troue en onthaal moet só beplan word dat al die gaste voor die aandklok tuis is of by die trouvenue kan oornag. “Ingevoerde rokke het ook skaars geword weens die wêreldwye pandemie, wat die spreekwoordelike ‘een man se dood is die ander se brood’ vir ons plaaslike ontwerpers ingehou het. Selfs grootmaat materiaalverskaffers sukkel met voorraad, en waar ‘n ontwerper voorheen nog kon wegkom met ‘n tydlyn van drie maande om ‘n trourok te maak, moet ons nou meer tyd inwerk vir die moontlike wagtydperk vir materiaal,” sê Elizna.

“Nuwe protokolle moet nou gevolg word met betrekking tot die aantal kliënte wat op ‘n slag na jou toe mag kom, so nou mag net die mamma van die bruid of een ander spesiale persoon saamkom om rokke te kom pas. Maskers en ontsmettingsmiddels is skielik verpligtend en bruidsgeskenkies aan die bruilofsgaste is sommer nou maskers!

“Maar die punt bly staan: Al is daar net ‘n klein getal gaste teenwoordig, of al kyk gaste na die troue oor Zoom, die bruid wil mooi lyk en voel op die spesiaalste dag van haar lewe. Dit is waarna ek as ontwerper steeds elke dag streef om te doen.

“My beroep is baie meer as net ‘n werk, dis my absolute passie en elke kliënt het ‘n spesiale plekkie in my hart. Wanneer die voornemende bruid ‘n afspraak by my maak, neem ek al haar behoeftes in ag. Ek kyk na haar idees, haar figuur, haar trou-tema en begroting. Met die kennis wat ek opgedoen het gedurende my modeontwerp-graad en 14 jaar se praktiese ondervinding, is ek in staat om verslankende illusies vir enige figuur te skep. En dan begin die towerkuns! Die ontwerp begin as ‘n skets, waarna ons materiaalmonsters kry. Wanneer die bruid tevrede is, begin die maakproses. Dis die mees bevredigende gevoel om ‘n bruid se droom te deel vanaf die ideeproses tot die eindresultaat op haar troudag, wanneer ek haar aantrek,” sê Elizna.

“Omdat my werk my passie is en nie net ‘n ‘job’ nie, doen ek net ‘n bepaalde aantal rokke per jaar. Ek bou verhoudings met kliënte wat verseker dat hulle herhaalkliënte word, en baie keer selfs net stop vir ‘n koppie koffie en klets. En dis waarom my motto is: We sell more than just a dress; we sell the experience!”

* E2 Designs Fashion House kan by 082 560 4017 gekontak word of stuur ‘n e-pos na info@e2designs.co.za. Hul webtuiste kan by www.e2designs.co.za besoek word.

Een van E2 Designs se asemrowende ontwerpe.

*********************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button