Hoe gemaak as jy ‘n nie-roker is en die bure in die meenthuis naaste aan jou is kettingrokers wie se rookbolle sonder ophou by jou vensters inwaai? Dit is die probleem waarmee ‘n 73-jarige vroulike pensioenaris van die Vaaldriehoek sit nadat sy pas nuwe bure gekry het.
“Die nuwe huurders direk langs my is studente en hulle rook sonder ophou. Ek weet nie wát hulle rook nie – daaroor wil ek my liewer nie uitlaat nie – maar dit stink verskriklik. My huis ruik permanent soos ‘n stroois. Ek het 30 jaar terug hier gekoop en kan dit nie bekostig om nou te verkoop en te trek nie,” sê sy.
“Ek wou nie baklei nie en het gaan mooipraat om vir die rokers te sê hul rook is baie steurend. Hulle het dit toe met die voorsitter van die body corporate bespreek, wat blykbaar vir hulle toestemming gegee om voort te gaan daarmee. En nou rook hulle éérs!”
So, wat is die regte van nie-rokers in ‘n woonkompleks waar die eenhede redelik na aan mekaar is en jy sonde met die bure se rookgewoonte het?
‘n Plaaslike prokureur met ervaring van deeltitelsake sê ‘n omheinde gemeenskap, woonstel- of meenthuiskompleks se reëls behoort gebaseer te wees op die beginsels van ‘n aangename gemeenskaplike bestaan.
Sy sê dit is belangrik om die gepubliseerde bestuurs- en gedragsreëls vir jou spesifieke skema ingevolge die Wet op die Bestuur van Deeltitels te bestudeer. Dit word by die aktekantoor ingedien en is behoorlik geregistreerde dokumente, verduidelik sy. Lees dan die gedeelte onder “Nuisance”, wat die reëls van jou kompleks wat oor ‘oorlasgedrag’ handel, sal bevat. Hoewel die reëls ‘n basis sal bied waarvolgens strydende inwoners se regte oorweeg en gebalanseer kan word, is die kanse goed dat daar niks in besonder oor rookgedrag genoem sal wees nie. Boonop sien min mense kans vir amptelike regsprosedures, bekgevegte en ander onaangenaamheid met hul bure.
Meeste rokers wat in ‘n vriendelike gesprek gewys word op die probleme wat hul rookgewoonte vir jou as nie-roker veroorsaak, sal waarskynlik aanpassings maak en net binnenshuis rook, of in ‘n afgesonderde area van die perseel waar dit niemand pla nie. ‘n Ander alternatief is om ‘n kwotasie vir ‘n insuigwaaier (extractor fan) met ‘n goeie koolstoffilter te kry, sowel as die koste om dit in jou wooneenheid te installeer. Dié soort waaiers is baie doeltreffend om reuke uit jou leefruimte te verwyder.
Vra dan die bure of hulle bereid sal wees om daarvoor te betaal as hulle nie hul rookgewoonte wil verander nie. Indien hulle konsidererende mense is, is kanse goed dat hulle sal betaal en die probleem sodoende vriendskaplik opgelos kan word.
Oor die algemeen besef rokers maar te goed dat hulle van geen nie-roker kan verwag om hul tweedehandse rook in te asem of ekstra geld moet uithaal om hul ongesonde gewoonte te akkommodeer nie.

**************************************************************************************************************************
