Local newsNationalNewsNews

Sanger verruil verhoog vir preekstoel

“Ek het as jong seun op skool al die droom en begeerte gehad om ‘n evangelis te wees.” Só vertel die bekende sanger, storieverteller en televisieaanbieder, Andries Vermeulen (35) wat deesdae sy lyf predikant in die Vaaldriehoek hou.

VANDERBIJLPARK. – Andries preek Sondae vir mense by die geleentheidsaal by die Emerald Resort & Casino.

Andries, wat bekendheid as ‘n Afrikaanse storieverteller, sanger en aanbieder van die kykNET-program, OppieStoep verwerf het, vertel dat die Here hom in 2017 bediening toe geroep het en dat hy die roeping aanvaar het.

Hy het homself intussen bekwaam en as pastoor by die Christian Revival Church van Suid-Afrika (CRC) aangesluit waar hy die Vaaldriehoek bedien.

Andries vertel: “Hoe meer ek my droom om in die evangelie in te gaan (gedurende my loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf) nagejaag het, hoe meer het die Here my publieke loopbaan (as sanger en storieverteller) net groter gemaak.

“Ek en die Here het in ‘n stadium kop gestamp. Ek wou gaan preek het. ‘n Paar jaar later het ek besef dat die Here my oor so ‘n lang loopbaan eintlik voorberei het om voor mense te preek,” vertel Andries.

As bekroonde kunstenaar wat gedurende sy sangloopbaan twee gouestatus-albums uitgegee het en ‘n Ghoema-toekenning (vir beste humor-album) ingepalm het, is Andries welbekend onder Suid-Afrikaners.

Om voor mense op te tree is nie vir hom vreemd nie.

Hy voel eintlik verbasend tuis agter die preekstoel. Andries se bittersoet lewensverhaal het dié storieverteller-sanger al deur baie “ups en downs” geneem.

Andries, wat as jong seun weens haglike omstandighede uit sy ouerhuis verwyder is en gedurende sy kinderlewe in kinderhuise in die Kaap en aan die Weskus grootgeword het, ken van swaarkry.

Hy het in ‘n stadium op straat geslaap.

Hy vertel dat hy op 14-jarige ouderdom begin sing het, “bloot eenvoudig vir oorlewing”, soos hy dit stel.

Hy vertel: “My sangloopbaan het maar in kuierplekke begin waar ek saans teen R75 per uur opgetree het. “Ek sou saans van 09:00 tot 01:00 in die oggend in kuierplekke sing en soggens teen 06:00 is ek weer op en teen 07:00 sit ek weer in die skoolbanke,” vertel hy.

Optredes by kuierplekke het later in optredes by mense se verjaardae ontaard. Dié optredes het later gelei na optredes by middagetes vir sakemanne, tot optredes by korporatiewe funksies en kort voor lank het Andries ‘n sangloopbaan gehad.

Dit was egter met sy stories wat hy tussen die singery, mense vasgenael mee gehad het.

Baie mense was so in vervoering met sy stories dat hulle eintlik verbaas was dat hy kan sing ook.

Andries glo sy lewenservaringe, sowel as sy vermoë om ‘n storie te kan vertel, is voordelig in sy nuwe beroep as evangelis.

“Die Here het my eintlik oor al hierdie jare voorberei en gewys hoe om met ‘n gehoor te werk. Daar is ‘n klomp truuks wat ‘n predikant of spreker moet ken. Hoe om ‘n atmosfeer te skep, hoe om met groot gehore te werk, hoe om ‘n gehoor te vat en vas te vang. Ek het al hierdie dinge geleer in daardie jare wat ek in die vermaaklikheidsbedryf was,” sê Andries.

Andries Vermeulen by sy kerk by die Emerald Casino. Hy is pynlik netjies oor hoe sy stoele staan. Foto: Christiaan Cloete
Andries Vermeulen meen sy loopbaan as sanger en storieverteller het hom voorberei vir sy loopbaan as evangelis. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button