Local newsNewsNews

Ongelukke gebeur, selfs in ‘n oprit

Soms gebeur daar snaakse dinge in 'n erf se oprit van die hek tot by die motorhuis.

Ons erf se oprit van die hek na die motorhuis het ‘n wit muur tussen ons en die bure.

Dan staan daar ‘n boom op die sypaadjie baie naby aan die hek. Beide het my al gekniehalter in my pogings om in en uit te ry.

Ook nie net vir my nie. Nou die annerdag het my niggie gesukkel om uit te ry en selfs my een oom het onlangs ‘n paar keer moes wiele reguit maak en weer probeer.

Daardie muur trek mens soos ‘n magneet! Om die waarheid te sê, ek weet van twee ongelukke in daardie oprit …

Ek onthou die dag wat ek van ‘n bestuursles afgekom het. Die vrou wat my vir die les gevat het was meer gespanne as ek.

Ek wonder nou of ek nie haar eerste en laaste kliënt was nie? Ek en bestuur was destyds nie maats nie.

Teen die tyd wat ek die draai in ons straat gevat het, het my hande al rooi uitgeslaan soos ek die stuurwiel vasgeklem het.

Daardie kort draaitjie om in die erf te ry was net een te veel vir my.

In my poging om die boom te mis het ek die draai te skerp gevat, weer momenteel vergeet waar is die remme, en met ‘n slag teen die muur tot stilstand gekom.

Ek het die huis ingevlug en so hard gehuil, die buurvrou het kom kyk wat gaan aan.

Vir drie jaar daarna het ek nie weer agter ‘n stuurwiel ingeklim nie.

Nou se dae is dit anders, ek en my Yankee verstaan hoe om relatief pynloos daar in en uit te kom.

Die ander ongeluk het ek nie veroorsaak nie.

Dit het dekades gelede gebeur. Ek en ma moes êrens heen ry. Ma se motor was in die motorhuis en pa se geel bakkie het voor die motorhuis gestaan.

Hy moes dus eers uitry voordat ons kon ry. Ma (soos ek ook nou doen) ry nie in trurat deur in die kant- of truspieëltjies te kyk nie, ons kyk by die venster uit.

Maak seker ons ry nie in die muur vas nie. Dan weet ons mos daar is genoeg plek aan die anderkant om by die hek uit te kom.

Ag ja. Pa ry tot by die hek, maar hy kan nie dadelik uitry nie, want selfs in ons stil straatjie kom daar soms ‘n ander motor verby.

Intussen het ma ‘n slag in haar truspieëltjie gekyk en gesien die bakkie beweeg. Sy het haar motor in trurat gesit en begin ry.

Kop by die venster, haar fokus op die muur.

Die slag was nogal groot.

Pa se gesig was iets om te aanskou.

Maar hy maak toe die fout om heeltemal uit die erf te ry.

Ma neem haar kans waar en ry vinnig weg, reguit na haar suster toe wat aan die anderkant van die dorp gebly het.

Net daar aangekom toe lui die huistelefoon.

My tannie tel op en begin lag. “Dis Nico. Hy sê hy was nou net in ‘n ongeluk betrokke, maar die skuldige het weggejaag.

Hy weet waar sy bly en sy gaan betaal vir die skade!”

Natuurlik het hy haar vergewe. Ongelukke gebeur mos maar, selfs in jou eie erf wanneer daar nie drank by betrokke is nie!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button