Vaaldriehoek groet ‘n geliefde steunpilaar met gedenkrit
“Sy was ‘n bok vir sports en kon beter visvang as meeste mans. Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Sy kon karre panelbeat, en dan gaan sit en die mooiste, fynste strooimeisierokkies maak"
VANDERBIJLPARK. – ‘n Bekende en geliefde inwoner van die dorp, mev. Johanna Strydom (52), is verlede week onverwags tuis in haar slaap oorlede. Die oorsaak van haar dood is nog nie bekendgemaak nie.
Johanna het saam met haar man, Johan (Bossie) Strydom, ‘n gedugte span by Vaal Auto Craft Insleepdienste gevorm.
Menige inwoner van die Vaaldriehoek wat in die afgelope jare in botsings betrokke was of in ongelukke beseer is, het waarskynlik al op sulke tonele met Johanna te doen gekry. Vaalweekblad se ongelukverslaggewers onthou haar as ‘n stille krag op talle ongelukstonele waar sy geskokte motoriste, beseerdes of familielede van oorledenes onderskraag en kalm gehou het. Op Donderdag, 23 September, moes haar hegte familie self by haar oop graf staan nadat die begrafnisdiens by Deo Credo Kerk gehou is.
Johanna is op 23 Junie 1969 op die Vlakplaas-hoewes buite Vanderbijlpark gebore. Volgens haar bejaarde ma, mev. Riekie Horn, was sy van jongs af al ‘n voorbeeldige “juweel van ‘n kind”. Sy was ‘n ware boeremeisie maar ook ‘n regte rabbedoe, vandaar die bynaam “Plottie”, wat haar pa haar gegee het.
“Sy het dit geniet om saam met haar pa op die trekkers te ry en was altyd besig met plaasdinge. Mens kan nie glo dit was dieselfde meisie wat later jare ‘n ware dame geword het nie,” sê mev. Horn.
Johanna se oudste dogter, Angelique Sinclair, onthou haar as ‘n baie streng ma, maar met ‘n hart van goud.
“Sy was ‘n bok vir sports en kon beter visvang as meeste mans. Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Sy kon karre panelbeat, en dan gaan sit en die mooiste, fynste strooimeisierokkies maak,” sê Angelique.
“Wat ek die meeste gaan mis, is die liefde waarmee sy elke oproep van ons kinders af beantwoord het, al was sy hoe besig. En haar drukkies en soentjies, dit was soos poeding. Sy het die hardste en lekkerste deelgeneem aan babyshower-speletjies. Sy was ons rots. As ons haar nodig gehad het, was sy altyd daar.”
Johanna word buiten haar man, haar moeder en twee broers, ook deur ses kinders, Angelique, Karel, Tanja, Karen, Chantelle en Monique oorleef. Sy laat ook 12 kleinkinders en nog enetjie wat op pad is, agter.
Gedenkrit (Hou Community Support Forum se Facebook-blad dop vir moontlike veranderings aan reëlings weens weersomstandighede)
* ‘n Gedenkrit vir Johanna word op 3 Oktober om 18:00 vir 18:30 by Checkers Hyper in Hans Strijdomstraat, Vanderbijlpark, gehou.
Haar man sal die kort gedenkrit deur Vanderbijlpark lei, waarna kerse voor Cortstraat 30 in CW6 aangesteek sal word.
Almal is welkom om ‘n kersie of blomme saam te bring. Die organiseerders versoek almal wat hieraan gaan deelneem, om Covid-regulasies in ag te neem en maskers te dra.




**************************************************************************************************************************
